Skip to main content

Sonnette Lombaard

Wat is ‘n lewe werd in die jaar 2023? wonder ek gister op ‘n grou, hartseerdag, vasgevang in ‘n rivier vol trane. Nagenoeg 100 treurendes het verdrietig-vrolik saamgebondel op die dak van die gerestoureerde ou Troyeville Hotel in Johannesburg se oostekant. Geleë neffens die berugte middestadhool wat Joburg teen nou net nóg ‘n vervalle, ongure Afrika-nes maak. Lekker om van doer bo net Egoli se kim deinserig te sien blink. Bykans betowerend. Die hoë geboue klinies afgeëts teen die Hoëveld se winterkou wat eens, voor vandag se moeras-realiteite, die Witwatersrandse ryk goudneerslae trots in beton vergestalt het.

Daar koek ons toe hartseer saam, verstrengel tussen Kammaland en ou sprokies en die harde, nare werklikheid van die nou en hede. Om ‘n wyd-geliefde te groet – ‘n jong, groot gees wat met sy ruim talente in Afrikaans bly verras en woel het. ‘n Ambassadeur vir Afrikaans, verklaar die huldeblyke wat steeds instroom vir tydskrifredakteur, skrywer, kunstenaar, musiekman en mensch Johan Jack Smith. As vryskut het hy gereeld onder die skuilnaam Gerald Eloff vir Die Waarheid geploeg.

Dié pa van ‘n oulike, agtjarige knaap saam met vroulief Almerie, is onverwags op 46 jaar tuis aan ‘n trombose dood. Johan Jack het diep getrap in verskeie velde. Meer van belang, laat hy ons agter met stewige lewenslesse in die kuns van menswees en oorgawelik leef! Iets waarmee hyself voorgeloop het in sy kort-in-menstermtyd op Aarde. Ten aanskoue, het hy sy wye respek verdien vir sy doelgerigte uitleef van sy motto: “Time waits for no one, go man go”.

Johan se debuutboek, die misdaadriller Zola, verwerf in 2020 die gesogte Eugene Marais Prys. Hy was besig met sy tweede boek en het aan ‘n digbundel geskaaf. Hy het ook vir die Vrystaat tennis gespeel (ondanks dat hy hom sedert sy tienerjare daagliks vir diabetes moes inspuit), en het steeds op klubkampioenskapvlak geblink. Tussendeur was hy die brein en voorsanger agter die alternatiewe Afrikaanse band Volkspeler en besig met sy tweede meestersgraad. Sy grafiese kuns het hom in die joernalistiek laat beland en as redakteur van Taalgenoot tot met sy dood, is dié tydskrif van die ATKV onder sy begeesterde leierskap gereeld vir inhoud en aanbieding bekroon.

Die tydlose les in sy vele prestasies was die toonbeeld waarmee Johan daarin sy talente ontgin en kanse begerig aangegryp het. Iemand wat self geleer het uit sy eie storm-en-drangjare en toe sy verworwe wysheid daaruit so ongemerk gesaai het op die regte plek en tye. Iets van die aweregse jare het bly kleef, want Johan was ook rebel. Verfrissend anders, ‘n aangename mengsel van behoudend en vrydenkend tegelyk, van dromer én doener, van kopman en hartman. Iemand wat nie sou terugdeins wanneer gebaande weë en grense vir uitdaag smeek nie. Iemand wat aktief daarna gestreef het om sy wense sélf waar te maak. As denker en visionêr, wóú hy vooruit loer en sien en kon dan daarop kapitaliseer. Hy het hustle se plek in die handel en wandel begryp. “In Afrika doen ons dinge anders,” hoor ek hom sȇ. Trots Afrikaans was hy immer, en het bly oplees oor sy volk se geskiedenis. Sy liefde vir sy moedertaal het hy sonder skroom regdeur sy lewe en loopbaan kunstig vervleg en verkondig én trots uitgestal. En ander gehelp het om dieselfde te doen!

Bekend as ‘n vurige Vespa-man, het Johan gereeld sy gitswart ysterperd opgesaal vir trippies buite die stad. Sy “Jude Law tussen die see van Vin Diesels,” het hy graag verduidelik. Bo alles, was Johan ‘n minsame mens wat compassion of deernis gelééf het. Van die rare soort, wat mensmedelye in rouvorm verstaan het. Was jy in sy vriendekring, het jy nooit getwyfel dat jy vir hom tel nie – hy het dit gesê en gewys en saam met jou geleef en beleef. Sy pa-skap met dieselfde passie, het inkykers daarop soms in verwondering gehad. As mynhuiskind in ‘n nederige Vrystaatse dorpie, kon hy as seuntjie bloot Ghostbuster-pyjamas deur die winkelvenster begeer. Vir sy seun, Rijger, sou hy later self ‘n Ghostbuster-stel bou en maak, als tot in die fynste detail.

‘n Boorling van Virginia in die Vrystaatse goudvelde, het Johan kom stof opskop in die grootmens-goudstad – Sodom wat sy hartstad sou word. In ‘n kitsgerigte millenniumwêreld wat nog skaars tyd vir rou laat, toring real menshelde soos Johan Jack Smith uit. Jou hart huil maar jy wis hulle is vir ‘n doel in ons lewens en omtes geplaas, bied bakens vir vorentoe bly trek. Soos Johan geglo en enduit gedoen het!

Toe ons gister gepas geel ballone op daai stadsdak in die koel middagbries loslaat, het ons ‘n goue mens gegroet. RIV, Johan Jack Smith. Jou sagte reus-spore is gegiet vir tyd en ewigheid.

Leave a Reply

error: Content is protected !!