Skip to main content

Die bewind deur vermeende besigheidsrowers was van korte duur aangesien een van hulle, 27 jaar oud, doodgeskiet is terwyl ‘n ander, 35 jaar oud, gewond is en tans onder polisiebewaking in die hospitaal is.

Twee ander, onderskeidelik 27 en 32 jaar oud, is ongedeerd in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in die Emalahleni-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte, insluitend sakeroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

’n AK-47 aanvalsgeweer sowel as twee pistole met ammunisie is ook in hul besit gevind.

Die vier verdagtes het na bewering Dinsdag omstreeks 20:00 by ‘n plaaslike restaurant in Tasbetpark Uitbreiding 1 in Witbank ingestorm en die werknemers ‘n onbekende bedrag kontant beroof.

Luidens berigte is kassiere gedwing om hul kasregisters leeg te maak en die bestuurder is met ‘n vuurwapen gedwing om die kontantkluis oop te maak.

Lede van die misdaadvoorkomingseenheid in Witbank het na die toneel gehaas nadat hulle dié inligting ontvang het. Lede se vinnige reaksie het vrugte afgewerp toe hulle die verdagtes se wegkom-voertuig raakgesien het toe dit die perseel verlaat.

‘n Hoëspoed jaagtog het gevolg.

Die verdagtes het na bewering verskeie skote op die polisie afgevuur. Die polisie het teruggeskiet en een van die vermeende rowers noodlottig gewond.

‘n Beseerde asook ‘n derde verdagte is op die toneel gearresteer. Die vierde een het aanvanklik arrestasie ontduik, maar is gister by ‘n huis van ‘n tradisionele geneser gearresteer.

Die vuurwapens waarop beslag gelê is, sal ballistiese toetse ondergaan om te bepaal of dit nie voorheen in ander kriminele aktiwiteite gebruik is nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!