President Vladimir Poetin van die Russiese Federasie sal nie die die geskiedkundige 15de beraad van BRICS-lande – Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – bywoon nie, het Vincent Magwenya, woordvoerder van president Ramaphosa, gister bekendgemaak.
Die Russiese Federasie sal by die beraad verteenwoordig word deur die minister van buitelandse sake, mnr Sergey Lavrov.
President Cyril Ramaphosa het bevestig dat Suid-Afrika gereed is om die beraad aan te bied. Dit sal die eerste BRICS-beraad wees wat persoonlik aangebied word sedert die COVID-19-pandemie en die daaropvolgende wêreldwye inperkings.
President Ramaphosa het die afgelope maande en weke ‘n aantal konsultasies gehou oor die aanbieding van die beraad. Die President se mees onlangse konsultasie in hierdie verband het eergisteraand, Dinsdag, 18 Julie 2023, by die BRICS Politieke Partydialoog in Gauteng plaasgevind.
Die beraad sal deur die leiers van Brasilië, Indië, China en Suid-Afrika bygewoon word.