Skip to main content

Sonnette Lombaard

Wyl die wȇreldvrede geruime tyd in gedrang is, is ’n kernrewolusie elders met mening aan die broei. Dit sement sport se plek en invloedsfeer as ‘n mega-vermaakbedryf, wat ook as gelyke magspeler saam met die politiek, ekonomie en kultuur op die internasionale verhoog paradeer.

Die Arabiese wȇreld se welaf-lande in die Midde-Ooste was flink om dié gaping te sien én te vat. Met een ná die ander uitklophou, vryf hulle hul sport coups skouspelagtig in! Asof iemand dié stinkryk-olielande se baasskap in millenniumvooruitgang kán mis! Moontlik gemaak met hul onuitputlike, gesogte olieserserwes – wat blink weerspieël in die teen nou ontelbare, toringwolkekrabbers wat in rekordstyl in die Persiese paradyse verrys.

Beide Afrika en Asië huisves die 22 Arabiese lande met Moslem by verre die grootste geloof daar binne. Die blok se gesamentlike bevolkingsgetal bly styg en staan tans op 465 miljoen mense. Die lande se inwoners strek oor groot uiterstes van stinkryk tot bitter arm. Enkel en gesamentlik, skop hulle egter deesdae sierlik stof op in die grensloosgewilde en magtige sportarena.

Sedert die draai van die eeu is sport ‘n winsmekka soos min met al groter geld, glans én mag saam in een aanloklike bondel. Dit verklaar waarom lande en stede so sterk daarna vry. Hoe sport se gesig verander, weerklink ook elders. In die VSA is die dobbelmekka-glansstad Las Vegas sterk in die resies om die Yanks se nuwe sporthoofstad te word.

Insiggewend, bewys die sportrewolusie dat sport as integrale leefstyl van mense oor grense nie sommer van die politiek of ekonomie of kultuur skeibaar is nie.

Saudi-Arabië lei tans as sterkste mededinger in die internasionale sportresies – haal gróót geld uit om al meer eksklusiewe sportregte en spogbyeenkomste te bekom. Gholf, tennis, Formule 1, sokker, krieket, rugby … noem ‘n gewilde sportsoort, en jy sal dié land se naam tussen-in sien, lees en hoor.

Wil gedoen wees vir dié reuse Moslemland, lank bekend vir sy toe deure vir Westerlinge en sy vroue wat agter sluiers min tot geen regte (gehad) het nie. Bygesê, Ena Murray kon ‘n paar geslagte Afrikaanse lesers meevoer na die “geheimsinnige” Saudi-Arabië se verre woestyn-oases waar skatryk sjeiks en ridders op wit kamele gewag het …

In werklikheid was die land tot onlangs ‘n geslote vir ander-oë stuk, woestynaarde, by meeste Westerlinge bloot bekend vir die jaarlikse pelgrimstog van miljoene Moslems na die heilige stad Mecca in die westelike kusstreek.

Nie meer nie, want die Koninkryk van Saudi-Arabië het wakker geskrik en by sy buursibbe aangesluit om vir die res van ons te wys hóé dit gedoen word. Die omdolwing en ontploffing in vooruitgang van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), wat uit die ruimte waarneembaar is, het bykans oornag Doebai, Abu Dhabi en Doha in wêreldstede en uithangspeelplekke laat ontpop.

Nȧ dese weet almal ook waar Katar in die Persiese Golf is nadat dit laas jaar die eerste Arabiese gasheerland vir die Wêreldsokkerbeker-skouspel was. Dié ewe ryk land, bekend vir sy middelpuntligging op ons planeet, het lankal sy sportvoornemens laat blyk. Ná ons spog-swemprestasies by die Olimpiese Spele in Athene in 2004, is miljoene rande aan sterre Roland Schoeman en Ryk Neethling aangebied as hulle voortaan onder die Katar-vlag sou deelneem. In die doodsnikke van ‘n era toe patriotiese harte nog in sport geklop het, het beide vriendelik nee gesê. Intussen is die speelveld omgedolwe en lag die hoogste bieër lankal die lekkerste.

Presies waar Saudi-Arabië met sy g’n geldtekort nie, aantree. Effe laat uit die blokke, haal hulle nou flink in om die Arabiese streek en stem se aansien en mag in wêreldgebeure onmisbaar te maak. Saudi-Arabië is die wêreld se naasgrootste olievervaardiger en reeds die grootste olie-uitvoerder met oorgenoeg gasvoorrade ook. Die koninkryk is die enigste Arabiese land in die groot G20-ekonomiese magsblok.

Boonop presteer Saudi-Arabiërs nou op haas elke gebied, insluitende die ruimteresies, het reeds ‘n vrou doer bo gehad en lei nog op. Evas skuif ook agter die stuur van hul peperduur vegvliegtuie in. Dít vir ‘n land waar vroue nou die dag nog nie mag bestuur het nie!

Terselfdertyd bly die Arabiese lande in die spervuur oor volharding met mensregteskendings, insluitende wrede doodstraf, beweerde borgskappe van terro-organisasies en gebrekkige mediavryheid. Baie meen hulle toetrede tot die sportarena is juis ‘n poging om dít te versluier, wyl ander glo politiek hoort nie in sport nie.

Dié eens besonge ideaal was gewild in ons eie vaderland in die vorige eeu toe ons sportbestes telkens hartverskeurend moes uitsit weens politiek se apartheid. Die pyn hiervan luier steeds. Helaas, wentel die millennium-mensdom om geld, en maak lankal korte mette van die “edele” oortuiging dat politiek, sport en die ekonomie apart bestaan.

In wese, is politiek baie breër en behels enige manier waarop mense hulle saam groepeer om sinvol te funksioneer. Dit raak dus alle georganiseerde sfere in die samelewing. In die gevleulde woorde van een van ons sportgrotes, Naas Botha: Aan die einde van die dag praat geld die hardste. Presies die sentiment van die Skotse ster-gholfspeler Rory Mcllroy toe einste Saudi-Arabië onlangs nóg ‘n gholfgrote “ingepalm” het.

In ‘n ander, interessante maar hartseerwending hierin, het een van die wêreld se gesogste koerante, die New York Times pas sy sportdepartement gesluit en weggedoen met sportberiggewing.

Die oorlewingstryd van veral die gedrukte media woed sedert die koms van die 24/7-kuberruim. Tradisionele sportberiggewing, eens ‘n gewilde stapel-plesier in koerantlees, kan tydgewys nie meeding nie met regstreekse sportuitsendings, en die talle heruitsendings,  wat deur die kits-alles-samelewing verslind word.

Die koerantbase in die Groot Appel verwys daarna as “’n evolusie oor hoe om sport voortaan te dek”.

“Ons wil op hoë-impaknuus fokus, asook ondernemingsjoernalistiek wat sport se interkonneksies met geld, mag, kultuur, politiek en die breër samelewing wys.” Inderdaad.

Leave a Reply

error: Content is protected !!