Sonnette Lombaard
In die aangrypende eindtoneel in die rolprent Blood Diamond laat sypel ‘n sterwende Leonardo DiCaprio Afrika se rooi grond deur sy vingers. Dis sy doekkarakter, ‘n Afrika-boorling, se geliefde wortelaarde, tasbaar vir oulaas! ‘n Rou en dierbare beeld wat elke, ware Afrikaan ruk en ruik en mee kan resoneer.
In ons Afrikaanses se geskiedenis rank grond ook diep deur ons verlede en speel sterk én kleurryk in op al ons sintuie: ons síén, ruik, voel, proe en hoor dit as ons dink aan of verlang na die dinge waaruit ons stam en gevorm is en waaroor en waardeur ons getrek het tot hier. Van die ossewaens wat berge en dale oor is, die diep delf na mineraalskatte in ons ryk aarde, kleiossies en wilgerlat speel met kleigrond of foefie-slide langs waters tot stofopskop met konsertina en tiekiedraaie neffens groen koringlande …
Terug na die hede. Op ‘n plaas iewers in Afrika hang ‘n gordyn met een gordynring te min. Ver oor vastelande pryk ‘n ring aan sy vinger … gemaak van die einste vermiste gordynring! Vir eertydse tokkelok en nou helingsterapeut Herman is die ring se alom nabyheid aan hom deel van hoe hy, waar ookal, sy moederlandverlange besweer. Dié staanhorlosiekenner by wie ons handvol siele eens soggens vir anderhalfuur in Linden gemediteer het, en sy gesin het paar jaar gelede opgepak, roep nou die vreedsamer, prentjiemooi Engelse middellande huis. Onderweg na Britse burgerskap, is hy steeds op sy gewese buurtwag se WA-groep in Johannesburg … bly so op kuberhoogte (en voel daagliks deel) van die wel en weë tuis, onguur en al.
Dis die storie van miljoene Suid-Afrikaners wat die laaste paar dekades die pad gevat het. Ver weg om verdomde, donker Afrika se nimmereindigende geweld, misdaad, korrupsie, onvermoëns, vel-vlak-lê-haat agter te laat … Wie met harte vashoudend gekoers het na waar die gras groen genoeg gelyk het. Verre kaartplekke soos Nieu-Seeland en Australië oor die Indiese oseaan en Brittanje, Amerika en Kanada oor die grote Atlantiese een.
Nou ploeg hulle fluks as volkvreemdes daar, moes meestal onder of weer en oor begin. Nie onmoontlik nie vir afstammelinge uit ‘n volk wat ken van moue oprol. Maar iets wil net nie wyk nié … bly knaag en kerf – die duurste, onsigbare prys van groot groet en nuwe hartland vind. Die groot verlange na dit wat bekend, eie is, jóú mense, jóú taal, jóú kos en kultuur, jóú humor en wyses. Al is jy Ingelsman. Soos oudjourno en Zimmer Nicky Carter Lynch wat laas jaar agter haar enigste kind Londen toe is. Sy kies ook om deel te bly van haar WA-gemeenskapgroepies hier in Jozi se Linden. Onkreukbare buurtliefde van ver, wat g’n wye waters kán verflou of uitwas nie.
My eie laatlamboet is middel 2000s weg na Doer Onder. Getroud met ‘n Aussie-Kiwi en oorleef deur sy nuwe land se jong sportspanne te slyp. Hy is oortuig van sy aweregse troos-waarborg om nié sy geboortegrond te vergeet nie. Sy dogter en seun heet Sahara en Kalahari, na Afrika se landmerk-woestyne. Al spot hy graag dat hy hoop sy kinders se humorsin is nie so droog soos hul name nie, hoor ek, bo die humor, eerder die seer verlange daarin.
Langs Oz, skrop nog ‘n oudjourno Alta al 20 jaar nuwe nes in Kiwiland uit. Sy het destyds vrede en veiligheid begeer. Net om te leer die lewe baar ironiese verrassings onderweg. Onlangs raak haar woonstelblok die teiken van ongure nagkarakters en soek sy inderhaas ‘n veiligheidshek vir haar glas-voordeur. Sy vind een aanlyn, doen navraag of dit pasgemaak kom. Waarop die verkoper kordaat laat weet, “nee, maar dis van hoë gehalte en uit Suid-Afrika ingevoer”! So, ná ‘n trek oor oseane op soek na veiligheid, moet ‘n beproefde sekuriteitsdeur uit haar geboorteland haar voortaan beveilig, lag Alta oor lyne!
Bevestig terselfdertyd haar aanneemland het oor die laaste twee dekades veel minder veilig geword – sy bestuur reeds geruime tyd in Auckland met toe motorvensters en ‘n stuurslot.
Juistement, hemel op Aarde bestaan nie, tjip ek in. Wel, Confucius is reg, skryf sy. “You can run, but you can’t hide.” Al word die wêreld meer grensloos en soomloos, en is multi-burgerskap aan die orde van die dag. Patriotisme is g’n perdekoop nie. Waag met wortels uittrek, is tuisgemaak-taai. Want huis bly waar die hart is. Nie sommer uit enige grond te plukke vir vat jou goed en trek saam met daai Ferreira nie …