Die voorlopige likwidateurs in die voorlopige likwidasie-aanslag op Tariomix het verlede Woensdag op Die Waarheid se kantore toegeslaan en beslag gelê op al hulle meubels, rekenaars, radio-uitsendingstoerusting en persoonlike eiendom van personeellede.
Wat alles op die oog af aanvaarbaar voorkom as mens nie te diep begin krap nie. Hulle het immers ‘n geslaagde hofaansoek gebring om ‘n hofbevel te kry wat die konfiskering min of meer wettig. Weliswaar ‘n ex parte-aansoek (‘n aansoek waar geen kennis gegee word aan die party teen wie ‘n bevel aangevra word nie en die aansoeker die enigste party voor die hof is) in ‘n landdroshof… Maar as jy verder kyk, lyk alles nie pluis nie.
Daar is ‘n paar goed wat verdag lyk:
• Die likwidateurs het mense in klapmusse en gewapen met outomatiese aanvalsgewere gebruik om die klopjag uit te voer.
• Alle persoonlike eiendom van personeel wat dalk gebruik kan word om radio-uitsendings te doen of nuusblaaie uit te gee, is ook gekonfiskeer, insluitende duur kameratoerusting en selfone.
• Die Waarheid Media is nie deel van Tariomix nie – dit is ‘n onafhanklike maatskappy.
Daar is egter een faktor wat mens meer as enigiets anders laat lont ruik: Die Waarheid het ‘n paar weke gelede berig oor ‘n hofsaak waar die likwidateur en eerste aansoeker in die ex parte-aansoeker, Vaughn Victor, se ouers in ‘n bedrogsaak waar R30 miljoen betrokke is, in die hof verskyn het.
Die saak is uitgestel, maar die egpaar, wat van onder andere bedrog, geldwassery, diefstal en belastingontduiking aangekla word, sal binnekort weer moet verskyn.
Media24 het ook oor die eerste verskyning berig gedoen, maar slegs Die Waarheid het die egpaar aan die likwidateur gekoppel. Die grootste Afrikaanse mediagroep in die wêreld, wat nou saamwerk in die Tariomix-sage, het onverklaarbaar geswyg oor die band tussen die beskuldigdes en hulle gatgabba Victor.
Dit laat mens wonder: Is die beslaglegging ‘n poging om Die Waarheid se mond te snoer?
Let wel, ons vra die vraag, ons stel dit nie as ‘n feit nie. Die blote gedagte aan ‘n poging om die media te muilband, is immers so ‘n laakbare, immorele daad dat ons eintlik nie wil glo dat niemand dit willens en wetens sal doen nie.
Maar die bewoording van die bevel wat toegestaan is – gewoonlik ‘n spieëlbeeld van die bewoording in die aansoek – laat mens kopkrap.
Die hofbevel magtig Victor-hulle om beslag te lê op onder meer Die Waarheid se opnametoerusting, mikrofone, luidsprekers, rekenaartoerusting, kameras, mengbanke klankstelsels, kabels … en woordeboeke.
Woordeboeke. Maar die bevel is tjoepstil oor enige sake- of finansiële rekords en dokumente – iets wat in ons leke-opvatting gewoonlik as waardevoller vir ‘n likwidateur behoort te wees as die gereedskap wat ‘n joernalis gebruik om sy nering te volvoer.
Die werklik interessante faktor is dat die aansoek groot klem plaas daarop dat die voorlopige likwidateurs beheer oor Die Waarheid se domeins oorneem – met ander woorde die vermoë om ‘n digitale nuusblad of internet-radiostasie te bedryf. Wat Die Waarheid sal stilmaak.
Die Waarheid het tienduisende, soms meer as 100 000 – lesers en Die Waarheid Radio saai vir almal uit wat ore het om te hoor. Die Waarheid Boeke het ‘n lojale gevolg en die twee Facebook-blaaie Skryf Jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes, sowel as ons Skryf-akademie het duisende lede.
Ja, toegegee, daar is ‘n groep mense wat verknog daaraan is om onder skuilname te laster, maar hoe ernstig kan jy iemand opneem wat nie die integriteit het om sy of haar standpunt onder hulle eie name te stel nie? Maar ons syfers bewys onteenseglik dat ons gewild is onder ‘n groot deel van die Afrikaanse gemeenskap.
Die Waarheid is ‘n belangrike stem, veral vir die baie duisende mediagebruikers wat alle vertroue in die Afrikaanse hoofstroommedia verloor het. Dis ‘n stem wat bestaan om die samelewing te dien. ‘n Vry media monitor die kragte wat die samelewing vorm, en is noodsaaklik om die belofte van demokrasie te verwesenlik. Dit stel burgers in staat om ingeligte uitsprake te maak oor die kwessies van die dag, ‘n rol wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word.
Artikel 16 van die Handves van Regte bepaal dat elkeen die reg op vryheid van uitdrukking geniet, wat insluit die vryheid van die media, vryheid om inligting of idees te ontvang en oor te dra en vryheid van artistieke kreatiwiteit.
Dis maklik om bloot jou skouers op te trek as mense aanvalsgeweerswaaiende, balaklawadraende boelies gebruik om hierdie vryhede van ‘n beduidende deel van die gemeenskap te ontneem.
Maar as ons nie die regte wat in die Grondwet aan ons gegee word koester nie, het dit bloot ‘n dokument geword wat nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie.
As ons iets so belangrik soos media-vryheid ignoreer, sal die land more, oormôre ontaard in die soort nes waar mans met balaklawas en masjiengewere gebruik word om ‘n ou gryskop-joernalis se persoonlike kamera en sy skoonma se selfoon te vat – iets wat in ‘n vrye land as gewapende roof beskou word.
Of wag, dis reeds so ‘n plek, soos ons Woensdag beleef het.
En daarom durf ons nie stilbly nie.
Hulle kan Die Waarheid se meubels vat – die ex parte-aansoek gee hulle daardie reg. Hulle kan – hulle mag nie, maar hulle kan – selfs ‘n skildery uit ‘n personeellid se persoonlike versameling of sy eie Persiese matte uit sy kar uit neem – die gemaskerde mans se masjiengewere gee hulle die vermoë. Ja, as etiek nie in hulle pad staan nie, kan hulle selfs die redakteur van Die Waarheid se kamera of sy skoonma se foon vat.
Maar hulle kan nie ons vryheid om te praat, te skryf of uit te saai vat nie.
Soos Picasso gesê het: “Ons kunstenaars is onvernietigbaar, selfs in ‘n tronksel of ‘n konsentrasiekamp sou ek oorleef in my eie kunswêreld. Al moes ek my prentjies met my tong op die stowwerige vloer van my sel verf.”