Skielik het Suid-Afrika ‘n sterk aanspraakmaker op een van die UFC se gesogte hokgeveg-titels.
Dricus du Plessis het die voormalige UFC-middelgewigtitelhouer Robert Whittaker gisteroggend (SA tyd) halfpad deur die tweede rondte met ‘n tegniese uitklophou verwoes. Dis ‘n besondere prestasie deur die besliste buiteperd Du Plessis – nie net omdat dit die deur vir hom oopmaak om sy staal in ‘n titelgeveg te wys nie, maar, soos die Pretorianer van die CIT-gimnasium in Silverton na die geveg verduidelik het, ook omdat Whittaker in Drickus se tienerjare sy groot held was. Hy het selfs ‘n plakkaat van Whittaker teen sy kamermuur gehad, het hy in ‘n sportiewe huldeblyk na die geveg vertel.
Van sportief gepraat: die legendariese kampioen Israel Adesanya het na die geveg in die hok geklim en ras-polariserende uitlatings gemaak en Du Plessis duidelik probeer uitlok om iets politiek-onkorrek kwyt te raak. Die uitbarsting het beslis ‘n nare rassetoon aan die komende titelgeveg tussen Adesanya en Du Plessis gegee. Die Nigeries gebore Kiwi was duidelik nog ontsteld oor Du Plessis se onlangse bewering dat hy Afrika se eerste kampioen in die UFC wil word – een wat in Afrika gebore is, hier woon en hier oefen.
Adesanya het herhaaldelik die woord ni****r teen die Suid-Afrikaner gebruik. “Ja, ek is van Afrika, maar ek is gewis nie jou broer nie, boet,” het Du Plessis vir hom gesê en al die kampioen se verdere pogings om hom uit te lok geignoreer en sy oomblik van glorie gevier.
Agterna het Dricus gesê: “Hy het soos ’n hanswors tekere gegaan. Dit is nie hoe ‘n kampioen optree nie. Dit is glad nie hoe ‘n man optree nie. Gedra jou soos ‘n kampioen. Ek is ’n gentleman, ek is ’n man, en ek sal my soos ’n man gedra.”
Van die sport se grootste sterre was na Du Plessis se verpletterende oorwinning oor die legendariese Aussie vol lof vir die fris boerseun.
Die grootste UFC-ster van alle tye, Conor McGregor, het so op Twitter gereageer: “Baie geluk aan [die] Suid-Afrikaanse MMA en Suid-Afrika, punt! Dit is ‘n ongelooflike oorwinning vir hulle in die UFC se Octagon! Titelgeveg volgende! Komaan S.A.!”
Die grootbek-stoeier Chael Sonnen het beweer hy het voorspel dat Du Plessis die pyp gaan rook.
Die voormalige veergewigkampioen Max Holloway het gesê: “Ek veronderstel hierna is Du Plessis 100% die ware jakob!”
Lando Vannata het voorspel dat Du Plessis se ongemaklike styl en krag op die grond een te veel vir Adesanya kan wees.
Alan Jouban het getweet: “Sjoe … so ‘n ondersteuner van Izzy, maar dit het nie goed gelyk nie. Dit wys Du Plessis is al in sy kop. Hy sal dit moet regstel voor gevegtyd.”
Vince Morales het gesê hy is 90% seker Adesanya is dronk.
Sean Strickland, ‘n ander aanspraakmaker op ‘n titelgeveg, meen “Dis teneerdrukkend. Ek veronderstel ek sal nou nog langer moet wag vir ‘n titelgeveg.”
Uitstekende werk Dricus jy is beslis n Gentleman. N man van jou karakter en soort kan die Wereld baie leer.
Ek kan jou belowe dat Jy en die jong man Cemeron Saaiman baie goeie positiwiteit aan my afsmeer.
Jy is en sal die Wereld kampejoen wees dit sit duidelik in jou man-wees en optrede.
Sal nog kom draai by jul club.
Die Boerseun is honger laat hom eet!