Isaac Cloete
Behalwe vir rou en hartseer het politiekery blykbaar vloedgeteisterde slagoffers net so hard getref.
So kla inwoners in die Namakwa-distrik. Dit nadat ongekende swaar reëns die afgelope weke enorme skade en lewensverlies tot gevolg gehad het.
Die regering talm egter om tot hulp te wees, grom inwoners. Veral na die Noord-Kaapse regering word harde woorde geslinger. Na byna twee weke, het hulle nog nie rêrig na die tafel gekom met praktiese oplossings nie.
Om die rede het die plaaslike munisipaliteit ingespring en vloedgeteisterde slagoffers gehelp waar hulle kon.
Veral die Nama Khoi munisipalipteit (NKM) op Springbok het gehelp met swaar voertuie en masjinerie. Dit het gehelp om modder, slik en sand weg te skuif. Noodvoertuie kan nou inwoners bereik wat dringende voedsel en mediese voorraad benodig.
Ook het myngroepe al gehelp om toegevalde paaie oop te maak. Of om tydelike ompaaie te maak.
Die burgerlike organisasie Gift of the Givers (G of the G), moet egter die grootse lof kry vir hulle humanitere onbaatsugtige hulp. Hulle het genadiglik ingespring en probeer om ongeveer 6 000 huishoudings te help.
Volgens dr Imtiaz Sooliman, stigter van G of the G, word 10 000 mense geraak in die Richtersveld-, Nama Khoi- en Kamiesberg-munisipaliteite.
“Ons het baie noodsaaklike voorraad en voertuie, maar benodig helikopters en 4 & 4’s om dit by die mense te kry. Ons kan dit nie alleen doen nie, want dis ‘n massiewe operasie.”
Sooliman het die provinsiale en nasionale regering skerp gekritiseer omdat hulle so lank neem om aan die slagoffers hulp te verleen.
Hy het ook ‘n beroep op die Wes-Kaap se regering gedoen om onmiddellik hulp te verleen aan die Noord-Kaap, maar ook die publiek en besighede gevra om hulle hulpbonne beskikbaar te stel.
Die ANC word intussen daarvan beskuldig dat hulle die verspreiding van kospakkies, ensovoorts manipuleer. Slegs hulle lede word glo bevoordeel. Die ramp word nou gebruik om sodoende stemme vir volgende jaar se verkiesing te werf.
Volgens die Namakwa Civic Movement is hulle bewus van ‘n geheime politieke vergadering by die Namakwa Distriksmunisipaliteit waar die ANC met verskeie staatsdepartemente vergader het. Blykbaar oor die verspreiding van kospakkies aan uitgesoekte lede van die publiek.
Behalwe die skokkende bewerings, wil gemeenskapslede weet waarom dr Zamani Saul, as premier, nog nie die area besoek het nie.
AfriForum het intussen laat weet dat hulle wel betrokke is met hulp in veral die Kamiesberg-area.
* Vyf persone het vermoedelik verdrink, volgens dr Gustav Bock, burgemeester van die NKM op Springbok. Hiervan is vier lyke al gevind en word daar nog na die ander gesoek.