Isaac Cloete
‘n Biskop wat teregstaan op klagte van seksuele misdrywe is uit op borgtog.
Gedurende die hofverrigtinge het die gemeente-lede van Biskop Edmund “Eddie” Losper (41), gedurig gebid. Hulle het geroem dat dit God se wil was.
Veral dames en ouerige vrouens het Dinsdag die hofsaal op Springbok volgesit asof dit ‘n kerksaal was waar ‘n diens sou plaasvind.
Losper was hierdie dag borgtog van R2 000 toegestaan nadat hy verlede Vrydag gearresteer was vir molestering.
Volgens die staat het die voorval in Januarie 2022 op die Springbok-skougronde plaasgevind. Hier het Losper vermoedelik ‘n 17-jarige seun ontklee en gemasturbeer.
Losper het glo self voor die seun en sy maat gemasturbeer, volgens die woordvoerder van die Nasionale vervolgingsgesag, Mojalefa Senokoatsane.
Die biskop is die stigter van die “In His Presence Kingdom Ministries International” (IHPKMI). Hy het baie volgelinge wat die hofsaal soos “bekeerdes” volgesit het.
Na Losper se arrestasie het sy kerkraad hom hewig verdedig. Apostel Winston Curnow, het toe in ‘n verklaring gesê: “As leierskap verwerp ons die bewerings teen ons leier ten sterkste. Ons glo vas in die ware lewende God dat hy vrygespreek sal word op die klagtes.”
Pastoor James Banda, ‘n gemeentelid van Nababeep, het vertel dat sy gesin en Losper basies saam grootgeword het. Ons kinders was soos huiskinders vir mekaar.
“Hy is baie lief vir mense, veral kinders. Ek kon nie enige verdagte gedrag by hom opmerk nie. Sonder bewyse glo ek nie die vele bewerings nie teen hom.”
Losper se 27-jarige vroutjie, Charlene, het vroeër hartseer gesê dat sy verpletter en gebroke is oor die bewerings. Volgens haar wil iemand n donker prentjie oor hom skets omdat hy ‘n profeet is wat die waarheid spreek.
“Die nuus oor hom affekteer my as sy vrou en familie geweldig. Hy is ‘n goeie Godsman en is onskuldig.”
Dinsdag het die landdros streng borgvoorwaardes aan Losper gestel. Hy mag nie kontak maak met die twee seuns of hulle woonplekke besoek nie.
Volgens die landdros het die staat ‘n prima facie saak daarom sal dit na die distrikshof oorgeplaas word en die volgende hofverskyning is op 7 Augustus.
Gemeenskapslede glo egter dat die regstelsel en wetstoepassers hulle sleg gefaal het.‘n Plaaslike vroue-aktivis, Maria “Oeka” April, was briesend by die hof. Volgens haar is die ondersoek-beampte te swak en onervare vir sulke sake.
“Die staat het ons weereens in die steek gelaat. Ons kinders bly in gevaar en ek is oor hulle bekommerd. Die oortreders kom te maklik vry.”
Duncan Britz het vir Losper opgetree.