Gautengers gaan nuwe nommerplate moet kry.
Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het in Februarie tydens sy provinsiale staatsrede verduidelik dat die huidige stelsel amper op sy einde is, met letters en syfers om spesifieke voertuie te identifiseer wat besig is om op te raak.
“Ons wil voordeel trek uit hierdie situasie om ‘n nuwe, baie moeilik om te kopieer en peutervaste nommerplaat bekend te stel sodat diegene wat verkeerde of duplikaatnommerplate gebruik nie deur ons paaie kan ry nie,” het die premier gesê.
Die week het die provinsie se LUR vir vervoer en logistiek, Kedibone Diale-Tlabela, die registrasieproses vir vervaardigers van voertuignommerplate amptelik van stapel gestuur. Die registrasieproses is ‘n sleutelkomponent in die provinsiale regering se plan om die nuwe nommerplaatstelsel bekend te stel.
Voldoeningsinspekteurs sal die produksieterreine van reliëfmakers inspekteer om te verseker dat aan regulasies voldoen word. Sodra ‘n aansoek goedgekeur is, sal vervaardigers vereis word om ‘n diensvlakooreenkoms met die Gautengse departement van paaie en vervoer te onderteken en die nodige betalings te maak.
Diale-Tlabela het gesê dit is belangrik dat die nommerplaatvervaardigingswaardeketting die betrokkenheid van nuwe toetreders, vroue, jeugdiges en persone met gestremdhede by die bedryf aanmoedig.