Skip to main content

Die polisie in Gauteng het beslag gelê op vervalste goedere ter waarde van meer as R30 miljoen en meer as 690 gesoekte verdagtes in hegtenis geneem tydens hoëdigtheid-operasies wat die afgelope naweek uitgevoer is.

Spanne wetstoepassingsagentskappe onder bevel van die Gautengse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela, het voortgegaan met die misdaadbekampingsoperasies in Johannesburg en die opsporing van gesoekte verdagtes in Gauteng.

Die operasies het hoofsaaklik gefokus op die verdagtes wat gesoek word vir ernstige en gewelddadige misdade soos verkragting, roof, kapings, besit van ongelisensieerde vuurwapens, handel in dwelms en moord. Tweehonderd-en-negentien (219) van hierdie verdagtes is in die Johannesburg-distrik gearresteer, terwyl tweehonderd-en-tien (210) in die Tshwane-distrik gearresteer is. Speurders in Ekurhuleni-, Sedibeng- en Wes-Rand-distrikte het meer as tweehonderd-en-sewentig (270) verdagtes gearresteer wat op die vlug geslaan het nadat hulle ernstige en gewelddadige misdade gepleeg het.

’n Padblokkade is op paaie in en om Hillbrow en Braamfontein uitgevoer. Verskeie drankwinkels is gesluit omdat hulle sonder permitte bedryf is, en eienaars is gearresteer vir oortreding van die Drankwet.

Meer as driehonderd (300) verdagtes is oor die naweek in hegtenis geneem vir bestuur terwyl hulle onder die invloed van alkohol was oor die hele provinsie en meer as 350 ongedokumenteerde persone is vasgetrek en later deur die amptenare van die departement van binnelandse sake verwerk.

Klopjagte is op geboue en winkels in Johannesburg se middestad, waar vervalste goedere geberg en verkoop word, uitgevoer. Daar is beslag gelê op vervalste goedere wat klere, tekkies en sakke ter waarde van 30 miljoen rand insluit.

Die gearresteerde verdagtes sal na verwagting mettertyd by verskillende landdroshowe verskyn.

Leave a Reply

error: Content is protected !!