Dit lyk of tweespalt en ‘n veldtog van disinformasie besig is om die Zoeloe-koning te beswadder.
Die Zoeloe-koning, koning Misuzulu kaZwelithini, het die naweek by monde van sy woordvoerder, prins Afrika Zulu, ontken dat daar enigiets met sy gesondheid skort.
“Sy Majesteit wil die nasie verseker dat hy in volmaakte gesondheid is en nie by enige hospitaal opgeneem is nie. Sy Majesteit bring gereeld hoflikheidsbesoeke aan Swaziland om sy oom, Koning Mswati, te besoek. Die kantoor van die Koning het dit raadsaam gevind dat die koning tydens hierdie besoek ‘n deeglike mediese ondersoek ondergaan in die konteks van ons huidige tye van pandemies soos COVID-19 en ander gevaarlike kwale. Sy Majesteit se kantoor het besluit om versigtig te bly gegewe die skielike heengaan van die koning se indoena, mnr. Douglas Xaba,” lui ‘n verklaring deur Zulu.
Die ontkenning van enige mediese hoofbrekens volg op ‘n verklaring deur die gesoute IVP-politikus en tradisionele eerste minister van die monarg, mnr Mangosuthu Buthelezi, dat die koning in ‘n hospitaal opgeneem is en dat vermoede bestaan dat Xaba vergiftig is.
Volgens Buthelezi word die moontlikheid dat die koning ook vergiftig is, nie uitgesluit nie.
Hy het ook genoem dat die owerhede enige verdere ondersoeke in die verband sal hanteer.