Skip to main content

 Isaac Cloete

Namakwalanders het die afgelope twee weke ervaar dat te veel water nie net hoop nie, maar ook hartseer kan bring.

Die afgelope ongekende reëns het alle riviertjies, stroompies en riviere laat vloei.

Soveel so, dat grootskaalse oorstromings en skades in veral die Nama Khoi-munisipaliteit-area by Springbok aangerig was. Volgens hul woordvoerder, Jason Milford was daar waarskynlik ook lewensverliese.

Intussen het Randall Cable van die pad-agentskap SANRAL bevestig dat die N7, duskant die Vioolsdrift grenspos (Vyf Myl Poort), Donderdag gesluit is weens hewige padverspoelings. Motoriste uit Namibië is genoodsaak om deur Alexanderbaai-grenspos na SA te reis.

Weens die swaar reën het ‘n gedeelte van die Spektakel-bergpaspad na Komaggas en Kleinzee ook weggespoel.

Donderdagaand het ‘n brug ook binne Kleinzee meegegee. Dit is die poort na die ou diamantmyne van De Beers.

Die hoofdorp, Springbok, het al 117mm reën binne twee maande gekry, luidens data van die plaaslike weerkantoor op Springbok. Dit is meer as die helfte van die dorp se jaarlikse reënval en die winter het nou eers begin.

Inwoners jubel egter oor die Buffels- en Skaapriviere wat weer na jare vloei. Ongelukkig is daar waarskynlik lewensverliese. Daar was ook berig dat die Hooreesrivier begin vloei het en al die Spoegrivier by Wallekraal loop.

Volgens die polisie op Komaggas was een persoon op ‘n trekker Woensdag meegesleur en nog nie gevind nie. Die persoon wou glo ander help.

In ‘n ander voorval het die water ses persone in ‘n voertuig oorval. Twee was ongedeerd en een gestrand gevind. Die ander drie is steeds vermis, volgens die polisie-woordvoerder, Timothy Sam.

Reddingswerkers het intussen een persoon gered, wat in ‘n boom gaan skuil het. ‘n Ander persoon wat die rivier hier wou oorsteek, word ook steeds vermis, volgens inwoners.

Van Donderdag af het swaar voertuie, soos vragmotoers en trokke by Steinkopf begin ophoop omdat hulle nie na en van Namibië kan gaan nie.

Die plaaslike Nama Khoi-munisipaliteit is tans in konsultasie om die area tot ‘n plaaslike noodtoestand te laat verklaar, volgens Milford. Hulle hoop op provinsiale en nasionale hulp weens skade van miljoene rande.

Hiervoor is ‘n gekoördineerde operasie-komitee gesig, bestaande uit die SAPD, die distriks- en plaaslike munisipaliteite, asook SANRAL.

Milford het ten slotte gesê: “Die hoofdoel van die gesamentlike komitee is om noodsaaklike padnetwerke te laat herstel en om die veiligheid van inwoners te verseker.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!