Naweeknavigasie met Sonnette Lombaard
Ek sing nie in enige kuberruim-kore nie. Dis nou van hierdie gemanikuurde gesigte, bekend en onbekend, wat ongevraagd jou spasie en kosbare tyd wil opeis met eie-ek-prekies van die oggend tot die aand. “Eksklusief en eerstehands” met jou wil deel wat hulle vir ontbytvlokkies en saam met wie geniet het. Net nie my koppie tee nie!
Toegegee, is dit teen nou deel van millennium lingo met elke Jan en San wat groot broer en prediker kȧn speel. Eindelik die eie kas luid kan bestyg met die eeuoue mensversugting van Look at me. Jou gekwetter dawer mos onmiddellik die grote, grenslose kuberheelal in – en hoeveel ore daar buite kán doof bly?
Netso wei ek ook nie slaafs in die ietwat-omstrede Greta Wiid-kamp nie, maar dat dié eva wel kan praat en ‘n ding soms suiwer (kan ek tydig bylas?) by die naam roep, is roerwaar. So rol haar nuutste “daaglikse geselsie”, prekie, of hoe jy dit ookal doop, onlangs oor my Facebook-skerm. En by noem van dáái een woord, het sy my oombliklik kietsregop en vasgevang om enduit te luister. Sy slaan dan die spyker so sekuur!
Haar betoog is supertydig want min woorde het in hierdie era soveel verdraaide plofkrag verwerf as kindness (die Afrikaanse vertaling van goedhartigheid dra nie dieselfde trefkrag nie). Dit klink op uit elke hoek en bek. Soos ‘n refrein waarmee genoeg mense sanik, of jy wil luister, of nie. Die skuldiges trek dit aan soos ‘n heilige mantel om oorle’ Moeder Teresa s’n millenniumvlerke te gee …
Ja, Greta, ek hoor jou hard en duidelik wanneer jy verklaar jy is keelvol verby vir die gedwepery met kindness. ”Be kind” is soos ‘n slaafse mantratjie waarmee al wat leef en beef breedbrek wil smous. Skreiende skande dat dit gewoonlik verkwansel word sonder tekens dat dit self deur die smous toegepas of geleef word. Jip, geveins is mos ook ‘n siekte van ons tyd.
Praat van dweep … sien ook ‘n TikTok-video van sanger Rudi Claase, waarin hy vuur spoeg oor al die skynheilige, konstante gedweep met wat ookal daar buite. Ja, my broer, hoor jóú ewe duidelik oor hierdie eietydse, Babelse en skynheilige gesanik!
Juis onlangs praat ons kollegas ook oor goeie, outydse lojaliteit wat stoom verloor het met die koms van geld wat als en almal deesdae prysloos kan koop. Bygesê, die Boeremanier van lojaliteit jel ook nie altyd lekker met my volkslyf nie. Dat dit ‘n soort gedwonge ruiltransaksie is van “sit in jou hoek en bly stil”. Gehoop my mense het al begin aanstap Rooies van die liederlike spoke rondom Baas/Klaas en so aan …
Terug na my hoofbetoog oor die aansteeklike misbruik van die woord kindness. Dis reeds pynlik dat alles in ons hedendaagse, voorskriftelike bestaan in eenvormige of eerder verteerbare kapsule-dosis opgedis word. Ruim besprinkel met “heiligklinkende” woorde soos kindness, genade, gratitude en empatie. Al ontbreek die ware betekenis daarvan by baie gebruikers al te veel …
Kindness pas perfek in dié jammerlike stand van sake. In kort, gaan jou siel mankoliek aan inherente goedheid al in die rondte (die real deal rondom ware welwil), is die georkestreerde oefening om daarmee goed te wil lyk en klink na buite vals en futiel.
Kindness is eerder ‘n stil aksie, iets wat jou siel weerlê. Toe nié ‘n wapperende tuisgemaakte vlaggie wat jy selfvoldaan wil plant en dan daarby vir almal kan verklaar: “Kyk, hier is ek, en ek is kind!” Dit behels helaas veel meer en vereis ‘n volwasse-bewuswording en dieper inskop, wat jou psige en ware menswees ontbloot.
Op volle sterkte is kindness dus komplekser as bloot ‘n daad in aksie of deel van ‘n gewilde, goedkoop rympie. Dit word aangevuur vanaf kragtiger plekke binne jou. Dis ‘n ingesteldheid wat daar vatplek kry, saam deur jou weefsel kronkel, krag kry in jou murg en vandaar woema na jou hart. Vir oorgawelike en opregte kindness na buite. Wat kom sónder selfverheerliking en die klop-op-die skouer aan jouself. Dan kan jy maar sluise ooptrek!