Isaac Cloete
‘n Bekende biskop is tans agter tralies weens beweerde seksuele molestering.
Biskop Edmund “Eddie” Losper is Vrydag in hegtenis geneem weens twee klagtes wat verband hou met die molestering en masturbasie van seuns.
Volgens die woordvoerder van die Nasionale vervolgingsgesag, Mojalefa Senokoatsane, het dit in Januarie 2022, plaasgevind.
Losper (41), oorspronklik van Nababeep naby Springbok, het reeds dieselfde Vrydag vlugtig ‘n hofverskyning in laasgenoemde dorp gemaak. Sy volgende verskyning is môre. Hy bly in aanhouding, volgens Senokoatsane.
‘n Storm, soos die afgelope kwaai stormreëns in die Nama Khoi-area, woed intussen oor sy arrestasie. Baie glo dat dit te verwagte was. Ander, soos veral sy gemeentelede, gooi kwaai wal teen die “komplot,” soos hulle dit stel.
Intussen het sy beste vriend en ondervoorsitter van die kerkraad, apostel Winston Curnow, in ‘n verklaring gesê dat hulle bankvas agter hul biskop staan: “As leierskap verwerp ons die bewerings teen ons leier ten sterkste. Ons is harsteer oor die sameswering teen hom as ‘n Godsman. Ons glo vas in die ware lewende God dat hy vrygespreek sal word op die klagtes. Sodoende sal sy naam weer skoon kom.”
Pastoor James Banda van Nababeep het vertel dat sy gesin en Losper basies saam opgegroei het, vanaf 1990. “My kinders en Losper was soos huiskinders vir mekaar. Losper was ‘n goeie jongman wat vir ander omgegee het
“Hy is baie lief vir mense, veral kinders. Hy hou daarvan om na ander kinders om te sien Ek kon nie enige verdagte gedrag by hom opmerk nie. Sonder bewyse glo ek nie die vele bewerings nie teen hom.”
Banda beskou Losper as ‘n baie energieke persoon wat vroeër jongmense aangemoedig het om byvoorbeeld Sondagskool by te woon.
Volgens Banda is hy baie lief vir die biskop, want hy is ook deel van Losper se kerk en bediening. Hy glo sterk dat Losper vrygelaat moet word sodat hy kan aangaan om God se werk te doen.
Losper se 27-jarige vrou, Charlene, het hartseer gesê dat sy verpletter en gebroke is oor die bewerings.
“Die nuus oor hom affekteer my as sy vrou en familie geweldig. Hy is ‘n goeie Godsman en is onskuldig.”
Intussen kom daar ander bewerings van uit die gemeenskap dat Losper glo al baie lank seuns molesteer. Hy word ook gereeld saam met seuns gesien.
Sy vrou het dit verdedig en vertel dat iemand ‘n donker prentjie oor hom wil skets omdat hy ‘n profeet is wat die waarheid spreek.
Biskop Losper is die stigter van die In His Presence Kingdom Ministries International (IHPKM). Hy het baie volgelinge en ondersteuners.