Isaac Cloete
Die gevolg van die Netbal-wêreldbeker het Dinsdag op ‘n koue nat Springbok aangekom.
Ondanks die gure weer het hulle ‘n vuurwarm ontvangs gekry van honderde inwoners, sportlui en beamptes. Behalwe die publiek was die politici ook (meer as) teenwoordig.
Die kenmerkende rooi doelgemaakte bus het met loeiende verkeers-en polisievoertuie die area binnegestorm. Weens die snerpende koue en ongekende reënerige weer moes die verrigtinge vanaf Springbok na die woonbuurt Bergsig verskuif word.
“Vir die veiligheid van netbalspelers was ons genoodsaak om die wedstryde te verskuif,” het André Jacobs, ‘n beampte van die departement van sport, kuns en kultuur op Springbok vertel.
Toe die Netbal-wêreldbekerbus in Bergsig stop, het tientalle opgewonde leerlinge dit bestorm. Die plaaslike brigade en trompoppies het luister en kleur aan die gebeure verskaf deur voor die bus te marsjeer na die Libra-saal.
Dr Gustav Bock, burgermeester van die Nama Khoi munisipaliteit op Springbok, het die verwelkoming gedoen. Hy was baie beïndruk met die absolute fantastiese gees wat onder die jong netbalspelers geheers het.
“Droom om eendag ook vir SA netbal te speel, soos die seuns droom om rugby te speel vir hul land.”
Mervin Cloete, uitvoerende burgemeester van die Namakwa distriskmunisipaliteit (NDM), het gespog dat die Namakwalanders glo, vertrou en weet dat die Proteas die wêreldbekertoernooi sal wen. Hy het namens die NDM die Protea netbalspan alle voorspoed toegewens.
Die hoofspreker van die dag, die LUR van sport, kuns en kultuur in die Noord-Kaap, Desery Fienies, het spreekbeurte omgeruil met Cecilia Molokwane, president van Netbal SA. Volgens protokol moes Fienies eintlik laaste gepraat het, maar sy was tevrede met die reëling.
Fienies het gesê dat die Noord-Kaapse wetgewer die Proteas honderd present ondersteun. Volgens haar was daar reeds in 2020 begin om die toernooi na SA te bring.
En toe kry Molokwane kans om te baljaar. Soos gewoonlik het sy weer die kollig op haar laat fokus. Sy het sommer die vloer beset en haar lyf soos ‘n ballerina rondgegooi. En toe laat waai met die liedjie Ek is n loslappie. Die opgewonde gehoor het spontaan saamgesing en die hande lekker warm geklap.
Sy het die jeug aangemoedig om hoog te mik soos baie Namakwalanders, wat tans deel vorm van die reëlingsspanne van die Netbal Wêreldbekertoernooi wat op 28 Julie in Kaapstad afskop.
Dit is die eerste keer dat ‘n wêreldbekertrofee deur die hele Noord-Kaap toer.