‘Dame mit Facher’ (‘Dame met ‘n waaier’), die laaste skildery deur die ontslape Oostenrykse meester Gustav Klimt, het die waardevolste kunswerk geword wat ooit in Europa opgeveil is nadat dit vir £85,3 miljoen (meer as R2 miljard) by Sotheby’s in Londen gekoop is.
Die verkoop vandeesweek, ná ‘n kort bodoorlog, het voorverkoopverwagtinge van £65 miljoen oortref, wat óók die rekord vir Europa se duurste skildery sou geklop het.
Dit is deur die voormalige uitvoerende hoof van Sotheby’s Asia, Patti Wong, namens ‘n naamlose versamelaar van Hongkong gekoop. Wong het ‘n vinnige uitbreiding van die veilingshuis op die vasteland gelei tot haar vertrek in 2021.
‘Dame mit Facher’ was klaar kort voor Klimt se ontydige dood in 1918, toe dit op ‘n esel in sy ateljee gevind is. Anders as baie van sy werke, is dit nie volgens opdrag geskilder nie, en historici betwis die identiteit van die vrou wat daarin uitgebeeld word.
Die vierkantige olieverfskildery vertoon die ongeïdentifiseerde sittende model in ‘n kimono teen die agtergrond van Chinese motiewe, insluitend lotusbloeisels, feniks en drake. Klimt was ‘n liefhebber van Chinese en Japannese kultuur en het ‘n klerekas van klere uit die lande besit.
Die skildery was tussen Maart 2021 en Februarie 2022 in Wene se Bo-Belvedere-museum te sien, waar dit die middelpunt was van ‘n uitstalling gewy aan Klimt se verbintenis met Asië.
Berigte in kunsmedia dui daarop dat ander werke van Klimt privaat teen hoër pryse verkoop is. ‘Die Portret van Adele Bloch-Bauer II’ het na bewering $150 miljoen gekos toe dit in 2016 van eienaar verander het, terwyl die ‘Portret van Adele Bloch-Bauer I’ na bewering ‘n prys van $135 miljoen in 2006 gehad het.