Sonnette Lombaard
Kan dit wees? In ‘n millennium-mensdom wat 24/7 zoer en waarin als van almal ad nauseam aan die groot klokke beier, is daar wraggies nog een hoekie, weliswaar vrek ver, wat skynbaar nié die kollig kies nie. Want as een van die oudste volke op Moeder Aarde, wat ook al ten aanskoue in hart oopgeruk is én geskeur het, bly Rusland en haar inwoners nog grootliks ‘n geslote boek. Ja mens kan daar gaan rondloop (liewer nie rondloer of -krap nie) maar teen die 21ste eeu in, bly dit ‘n nasie wat oȅnskynlik onder die ysterhand van sy leiers eerder swyg as uitpraat, watwou nog verduidelik.
Mens sou ook kon redeneer die Russe se stugheid of is dit skugterheid (skynbaar wel tembaar deur hul trots-tuisgemaakte vodka) is dalk ‘n wyer “Oosterse ding”. Wat ons afwyserige en uitpraterige Westerlinge eenmaal nie klein kry nie. Dat alles nié aan die groot klok hoort nie en daar te midde van ‘n raserige bestaan steeds ruimte vir stilwees en private meditering is. Nog erger, dit skreiend skreeu as jy daarna ander daaroor luid (en ongevraagd) in ‘n TikTok-video wil bepreek! Tog, is TikTok juis ‘n Oosterse baba en Oosterse lande soos China, Japan en Suid-Korea, lei skouspelagtig met uithaal en wys in kubertegnologie, wat raserig die wȇreld grensloos verbind en Aardlinge unisex bedwelmd hou. Moeder Rusland sluit egter haar lippe en koes slinks neffens die Siberiese koue winde.
Soos nou opnuut blyk met die opspraakwekkende Wagner-muitery, wat die naweek mense oor die Aardbol op die punte van hul stoele gehou het. Die vreemde uitkoms van Yevgeny Prigozhin se poging om nogals sy eertydse kameraadvriend Vlad Putin die stryd aan te sȇ, maak opslae. Veral onder die res van ons wat van buite grootoog inkyk. Een oomblik is dramatiese beelde die wȇreld ingestuur van dié oud-tronkvoȅl en sy huursoldate se vermetelde en doelgerigte opmars na die Rooi Plein … en toe … ‘n skamele 200km vanaf die Russiese hoofstad halt als en almal terstond. Prigozhin beveel sy berugte troepe om daar te makeer en om te draai. Glo nadat die buurlandleier in Belarus, ‘n geswore Putin-ondersteuner, blitsig ingegryp en die moderne Russiese Rebellie net-net afgeweer het.
Oor die sg. ooreenkoms wat met die veglustigePrigozhin beding is, word sedertdien hardop gegis. Die behoefte aan groter verduideliking(s) hang dragtig in grenslose lug. Puur verniet, want die dik rooi gordyn in Moskou is intussen ferm laat sak.
Intussen hardloop die Westerse media vinnig uit woorde om nog invalshoeke en/of vars nuus oor die opsienbare reletjie te bied. Elke liewe kenner binne en buite Rusland waag met menings op elke liewe kanaal maar die duisternis is durend. Al sȇ Prigozhin op ‘n oudio-tape hy wou glo nie Putin “ontman” nie en het eerder omgedraai om “Russiese bloedvergieting” te keer.
Vanuit die gegrendelde Kremlin hoor jy die muise piep en Moeder Rusland swyg gedienstig en masse. Gaan weer, op die waarneembare oppervlak altans, onverstoord haar gang, al klou bespiegelinge dat die astrante poging tot ‘n staatsgreep om Putin te onttroon, tog die ouerwordende kaalkopleier in sy knuskussings geskud het.
Een van ons voorste komedie-akteurs Kaz McFadden vind die humor te midde van die oproer.” Ek is natuurlik mal oor die feit dat die hoof van Wagner begin het as ‘n worsbroodjieverkoper! Laat my dink aan Dostoyevsky se Prince in The Idiot! Die Russe is nou maar annerste,” laat hy knipogend uit Pretoria weet. Jip, die man wat een van die wȇreld se magtigste manne wou aantree, was eens ook Putin se sjef en het die besoekende Westerse leiers soos George W. Bush vanuit vyandskombuis bedien.
Les bes, as magsblok sal Rusland ‘n kragspeler op die bestaans-skaakbord bly. Wie almal moeiteloos betower wanneer sy jaarliks paraat haar magsvertoon en wedstrydfiksheid op die Rooi Plein paradeer. Haar burgers is van die heel talentvolste mense op Aarde en presteer tydloos, oral, veelsydig. Nogtans wil die Russe g’n uitverkoop nie, frons Njet vir die moderne mantra van gevoelens afwys en hart op jou mou dra. Die Koue Oorlog en Ystergordyn is saam met die Berlynse Muur afgeruk maar net verder ooswaarts gedrapeer – dit blok nuuskierige agieoge en trek steeds laer om Moeder Rusland! Die oorlog daar gaan duidelik vir eers koud bly.