Dit is maklik om te verstaan waarom betrekkinge met die Wagner-huursoldaatgroep Afrika-heersers so aanstaan.
Sy vegters kan vinnig ontplooi word. Wagner bring gesofistikeerde wapens met hom saam en kan vinnig en meedoënloos optree.
Alternatiewe bronne van militêre spiere het gebreke: Die Verenigde Nasies se missies het nie robuuste mandate nie;
die Afrika-unie (AU) se magte het nie die wapens en motivering nie; soldate van die Europese Unie dra die nalatenskap van koloniale onderdrukking. Die VSA het min belangstelling in Afrika behalwe om gevegte teen Salafi-terroriste te ondersteun.
Die Wagner-groep is in 2014 deur Yevgeny Prigozhin gestig as ‘n private militêre maatskappy om die Russiese inval in die Oekraïne daardie jaar te ondersteun.
Vir meer as ‘n dekade kon Prigozhin nie werk sonder die toestemming van die Russiese president Vladimir Poetin nie.
Gedurende hierdie tydperk kon die belange van Rusland en Wagner verskil – maar hulle het nie meegeding nie en het baie oorvleuel.
Natuurlik maak die naweek se Wagner-rebellie Wagner se toekoms in Afrika hoogs onseker, maar Wagner sal waarskynlik voortgaan om ellende in verskeie vorme na die Afrika-kontinent te bring.
Geen buitestanders sal dit waarskynlik keer nie.
Sy teenwoordigheid sal ook voortduur omdat individuele Afrika-rolspelers, staat en nie-staat, voordeel trek uit sy teenwoordigheid.
Die nut wat die huursoldaatgroep vir sekere regimes het, help om die Afrika-unie se opvallende stilswye oor die bedreiging wat dit inhou, te verduidelik.
Die passiwiteit teenoor Wagner weerspieël ook ‘n dieper ambivalensie oor Rusland en Russiese imperialisme. Oor die algemeen het Wagner byna niks gedoen om die lewe vir Afrikane beter te maak nie: sy aktiwiteite het gedien om diktators te verskans en demokrasieë te ondermyn;
om burgerlike konflikte uit te brei en te verdiep; om onskuldige burgerlikes te vermoor; om natuurlike hulpbronne vir Rusland se gewin te ontgin; en om die enigste alternatief wat Afrikane vir China as belegger het, teen te werk.
Dit beteken dat, mettertyd, die AU en verantwoordelike Afrika-regerings later waarskynlik aanstoot sal neem oor Wagner se teenwoordigheid en spyt sal wees oor hul versuim om dit teen te staan.
Wagner het verskeie regimes gehelp om mag op die vasteland te behou. Die groep het Soedan se Omar al-Basjir gehelp om troepe op te lei, hulpbronne te bewaak en onenigheid te onderdruk.
Wagner het ontluikende diktature gehelp om mag te konsolideer.
Dit het sy rol in Mali ingesluit waar verkiesings tot stilstand gebring word danksy die militêre regime wat Wagner-magte na die land genooi het.
Wagner het in 2018 by die burgeroorlog in Libië aangesluit en uiteindelik meer as 1 000 troepe ingestuur om die rebelleleier Khalifa Hiftar se Libiese Arabiese Gewapende Magte by te staan.
Die groep steur hom ooglopend weinig aan internasionale reg.
Wagner gebruik myne en booby strikke, wat baie burgerlikes doodgemaak het.
In die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) is Wagner dikwels in regstreekse gevegte met ‘n koalisie van rebelle gewikkel.
Tot soveel as 40% van konflik-insidente tussen Desember 2020 en Julie 2022 het Wagner betrek.
In Mosambiek het die regering Wagner gehuur om teen ‘n Al-Sjabaab-verwante groep te veg.
Rusland en Wagner is betrokke by die burgeroorlog wat in April vanjaar in Soedan uitgebreek het.
Waar dit ook al gaan, was Wagner onverskillig teenoor menselewe en het burgerlikes sowel as Islamitiese militante en ander opstandelinge sonder aansiens des persoons vermoor.
Die navorsingsgroep vir gewapende konflik-ligging- en gebeurtenisdataprojek het bevind dat tussen 52% en 71% van Wagner se gebruike van geweld in die SAR en Mali burgerlikes geteiken het.
Daar is ‘n aantal redes vir hierdie betrokkenheid. Eerstens was die Russiese regering op die uitkyk vir militêre basisse in Afrika. Selfs voordat Wagner die eerste keer in 2017 by Afrika betrokke geraak het, het Rusland reeds militêre samewerkingsooreenkomste met 18 Afrika-lande gehad. Dit het gewissel van demokrasieë soos Ghana en Nigerië tot onbeheerde Oos-Libië, wat ‘n logistieke spilpunt vir Rusland sowel as Wagner geword het.
Tweedens gebruik Rusland bedenklike propaganda ter ondersteuning van die Oekraïne-oorlog.
Derdens is die motief wins. Afgesien van die staatsbetalings wat hy ontvang, het Wagner ooreenkomste beding vir eksklusiewe toegang tot goud, diamante en uraanbronne op verskeie plekke waarin hy bedrywig is. Dit sluit die SAR, Mali en Soedan in.
Daar blyk min kans te wees dat enige groot magte van binne of buite Afrika sy aktiwiteite ernstig sal teenstaan. Individuele Afrika-rolspelers, staat en nie-staat, baat by die teenwoordigheid daarvan. Hierdie klein aantal begunstigdes sal Wagner se huursoldate beskerm.
Daar sal waarskynlik ook nie kollektiewe druk onder die sambreel van die AU wees nie. Dit kan slegs kollektiewe optrede organiseer wanneer daar ‘n breë konsensus oor ‘n kwessie is – soos teen apartheid.
Dieselfde ontleding is van toepassing op Afrika se talle plaaslike ekonomiese gemeenskappe. Hierdie het onlangs ‘n groter rol in sekuriteit gespeel, maar niemand het ‘n anti-Wagner-standpunt ingeneem nie.
Boonop huiwer ‘n aantal Afrikalande om Rusland te kritiseer. Vier-en-twintig Afrika-state het óf geweier óf was afwesig vir die VN se Algemene Vergadering-resolusie wat Rusland se onwettige anneksasie van dele van Oos-Oekraïne veroordeel het.
Ghana, Nigerië, Senegal en Zambië het almal ten gunste gestem. Wat van Afrika se voorste streeksmoondhede? Ethiopië en Nigerië is invloedryk genoeg om saak te maak. Maar elkeen is te besig met interne probleme om die saak op te neem.
Net Suid-Afrika kan standpunt teen Wagner inneem. Maar hy sal nie. Die African National Congress het ‘n diep nostalgie vir Sowjet-bystand tydens die apartheidsdae. Suid-Afrikaanse elites waardeer ook Rusland en China as teenbalanse vir die vermeende Westerse oorheersing wat hulle steeds verafsku. En die land geniet die aansien wat gepaard gaan met lidmaatskap van BRICS.
Daar sal waarskynlik ook nie enige ernstige internasionale mobilisering teen Wagner wees nie.
Die VSA het in elk geval weinig aptyt om Wagner te verdoem, aangesien Amerikaanse leiers selde op Afrika fokus. En Frankryk het hom toenemend aan Afrika onttrek.
Die enigste relevante eksterne groot moondheid vir Afrika is China. Maar China sal geen rol speel om Wagner te beperk nie. Vir eers het die Oekraïne-oorlog Rusland en China bondgenote gemaak.
Daarbenewens het China uitgebreide sakebelange op die kontinent, veral die verkryging van minerale. Laastens het China sy eie private sekuriteitsmaatskappye op die vasteland ontplooi, hoofsaaklik om toegang tot minerale te verseker.
Hierdie organisasies is nog nie direk by die politiek betrokke nie, soos Wagner, maar hul teenwoordigheid dien om die gebruik van private sekuriteitsmaatskappye verder te legitimeer.