Sonnette Lombaard
Voor die draai van die eeu was mensgemaakte rampe meestal die duur prys van ‘n edele, hoër strewe wat die mens vooruit sou neem. Dink maar aan die epogmatiese rampe van die pendeltuie Challenger in 1986 en Columbia in 2003.
Dit was ook gewoonlik geleerde, skrander mense met toepaslike grade en onberispelike gedrag wat vooruitgang braaf geïnisieer en gereguleerd gedryf het. Nie meer nie.
Teen die einde van die vorige eeu het die moderne mens wat toe al fluks harte oorgeplant en op die maan gedraai het, meer en groter én verder begin waag. Geld en glans het ook toegetree. Met die kuberruim wat ons blitsig in ‘n kakofoniese kolonie laat ontaard het, was grensloos-groot uithaal en wyd wys die nuwe orde.
Selfs gewone Janne en Sanne kan oornag kitsroem en rykdom in TV-realiteitsreekse verwerf. In kort, die 24/7 sosiale media rule en in die kuberruim kan enige padda in ‘n prins omtower. Eietydse slimmes en visioenêre soos Steve Jobs het die tydsgees reg geskat en presteerders se voorkoms reggetrek. Weg die stywe, stugge pakke en in die casual, stylvolle rolnektruie, als in swart, asseblief. Daarmee saam die weelderige, rondrits-leefstyle en afwys-speelgoed op land en see.
Teen nou speel sy opvolgers uit kuberkoningland groter en paradeer deesdae ook graag in die ruimte. Met Elon Musk wat gefokus mik na die warm stoel as eerste president van die heelal.
Om voor te kom én te bly in ons snelveranderde landskappe en afwysera kom teen ‘n peperduurprys. Selfs stinkrykes soos die flambojante Brit Richard Branson het moeg geraak vir op sy eie eiland sit en sy oë boontoe gerig. Gou die gaping gevat om die onuitputlike rykdomme in sy kaderkringe daarheen te wentel. En siedaar! Ruimtetoerisme is gebore met bekendes en beroemdes wat gretig tou vir daai vlugtige maar eksklusiewe ruimte-belewenis, weliswaar teen ‘n paar plase se prys. Mos nie elkeen beskore nie.
Musk het gou ingehaal, sterk op pad om eerste die volgende groot mensgrens doer bo oor te steek. Die epiese tog na die magiese rooi planeet Mars sal na verwagting vroeg in die volgende dekade realiseer.
Intussen het mede-biljoenêrs soos ons eie Mark Shuttleworth ook hul avontuurlike strepe en ruim beursies reggeskud en die Internasionale Ruimestasie gaan besoek. Hoeveel van ons kan saampraat?
Avontuurtoerisme, eksklusief vir die mensdom se superrykes dus, het skouspelagtig gedebuteer. Gesien die ongewone speelgronde, word dit ook ekstreme toerisme genoem. En deesdae draai dit nie nét doer bo in die buitenste ruim nie maar daal ook af in die planeet se heel diepste waters. Die wêreld se oseane beslaan immers 70% van die Aarde se oppervlak en speel van die vroegste tye ‘n kragrol in die mens se ontdekkingsin en onblusbare drang om grense oor te steek.
Diegene met die regte bankbalanse kan nou ook aanmeld om die geheime van die een ontwykende grens op die blou planeet te gaan verken. Maar die diepste oseane kom vanselfsprekend ook teen daai gesogte prys.
Soos die vier brawe avonturiers wat elk R4,5 miljoen opgedok het vir die voorreg om op Vadersdag die legendariese Titanic-wrak 4km onder die see van nader te gaan beloer.
Saam met die stuurder en hul gasheer Stockton Rush het hulle hoopvol in die beknopte Titan-duiktuig ingeskuif en in die Noord-Atlantiese Oseaan se donker en koue waters na onder begin daal.
Teen nou weet die hele wȇreld die tragiese uitkoms van die tuig se katastrofiese inploffing wat tot al vyf se onmiddellike dood, hopelik pynloos, gelei het. Vingers word nou lustig gewys na Stockton en sy duiktuig wat glo veiligheidsgebreke gehad het. Die duiktuig is oor 14 jaar saam met Nasa en Boeing ontwerp.
Na als was hy ‘n eietydse avonturier met ‘n deurwinterde agtergrond in lugvaart- en ruimtetegnologie, iemand wie passievol gewaag het. Veral in sy geliefde oseane waar hy geglo het die mensdom se toekomsversekering skuil.
Die hartseer waarheid is dat grensverskuiwing, waar ookal, riskant bly en ‘n duur prys het. Dit kan lewensverlies insluit. Soos die geskiedenisboeke vol van is. Vanaf die brawe ontdekkers van ouds wat die wilde oseane aangedurf tot die ruimtevaarders wat die hoogste prys betaal het sodat ons nou weer op pad terug na die Maan kan wees en vandaar voorwaarts na Mars kan trek.
Punt, al ruik die millennium se Wilde Weste na groen blare, is dit steeds nie vir sissies nie. Mag die vyf Titane sag rus.