Skip to main content

Wag Titanic se donkerwaterlot ook vir die Titan?

Wyl die millenniummens se aandag vasgevang is op die volgende groot grensverskuiwing na Mars doer bo, bereik ‘n moderne tragedie diep onder in die pikdonker see vandag ‘n kritieke fase. Dié ekstreme see-ekspedisie in die Noord-Atlantiese oseaan het in ‘n aangrypende menstragedie ontaard met tyd en suurstof wat uitsnel vir die avonturiers vasgevang in die vermiste, klein navorsingsduiktuig. Die vyf was oppad om die wrak van die Titanic 4 km onder die see te beloer. ‘n Eksklusiewe voorreg met duidelik ‘n hoër prys as die miljoene vir ‘n sitplekkie in die beknopte duikvaartuig, ironies Titan gedoop, skryf Sonnette Lombaard.

Met die laaste ure se suurstof oor aan boord van die klein navorsingsduiktuig Titan, wat sedert Sondag iewers diep in die vrieskoue en grote Noord-Atlantiese see vermis geraak het, kwyn hoop vir ‘n positiewe uitkoms met die internasionale reddingsaksie. Kenners meen die kans is al skraler om die handvol ekspedisielede, wat in groot nood binne-in die tuig in reuse-waters vasgevang is, lewend te vind.

Die duiktuig wat vooraf afgeseël word, kan slegs van buite oopgemaak word en het vermoedelik alle krag aan boord verloor. Hoewel die nuutste tegnologie saam met reddingskepe en -vliegtuie van die VSA, Kanada en Frankryk Dinsdag én gister seine van onder die water opgetel het, ontbreek toerusting om dit vanuit só diep onder die see te ontsyfer. Van die harder geluide was in reëlmaat van 30 minute. Die see is ‘n raserige omgewing maar dit verskerp hoop dis van die desperate bemanning wat in kodetaal hul ligging probeer kommunikeer.

Die reuse-reddingsaksie vanuit die lug, land en water soek onverpoos voort na die Titan, wat so groot soos ‘n minibus is, en iewers in ‘n uiters mensonvriendelike omgewing in uitgestrekte seewaters in kritiese oorlewingsnood verkeer.

Benewens die geweldige waterdruk en -digtheid in daai seedieptes, is dit pikdonker en yskoud met temperature van 0 grade C. Boonop is dit onduidelik hoe die Titan, wat met 17 dik boute van buite geseël is, vanuit die donker dieptes na die oppervlak gebring kan word; indien dit nog gevind word. Geen reddingsaksie vanuit sulke seedieptes is al aangedurf nie.

Die Titan is deur die private eksplorasiemaatskappy OceanGate in samewerking met die ruimetereus Nasa ontwerp, om in die diepste oseane toekomsnavorsing te doen. Soos met die ruimteresies, speel geld en private inisiatief ‘n rol en word die navorsingsduiktuig aangebied vir “diepsee-toerisme”, oftewel private ekskursies vir brawe avontuurlustiges wat dit kan bekostig. ‘n Kaartjie vir een van die vyf piepklein-sitplekke in die beknopte duiktuig kos ‘n kwartmiljoen dollar ($250 000, nagenoeg R4,5 miljoen)!

Onder die vermiste avonturiers op dié reis na die legendariese Titanic se wrak is die bekende Britse avonturier Hamish Harding, wat uit Doebai sy biljoene verdien. Hy is in Junie 2022 saam met Blue Origin die ruimte en het Saterdag in ‘n Facebook-pos opgewonde sy trots gedeel om die Titanic-wraksending mee te maak. Saam met hom is die Fransman Paul-Henry Nargeolet, ‘n gewese Vlootoffisier en die wêreld se voorste Titanic-kenner, wat die wrak al 37 keer besoek het en die mees tegnologiesgevorderde sending in 2010 gelei het. ‘n Skatryk Pakistani-pa en sy 19-jarige seun, Shahzada en Suleman Dawood , is ook in die tuig vasgevang. Shahzada, wat ook Britse burgerskap het, se maatskappy in Karachi is betrokke in die landbou- en petrochemieveld, asook telekommunikasie-infrasktuktuur.

Aan stuur van die duiktuig was Stockton Rush, wat die omstrede OceanGate in 2009 begin het. As vegvliegtuigloods en vlugingenieur ken hy lugvaart- en ruimtevaarttegnologie en word beskryf as ‘n skrander, toekomsgerigte man, wie nie aan waagmoed ontbreek nie.

OceanGate het in 2021 sy eerste ekspedisie geloods om toeriste met die duiktuig vanaf St John’s in Newfoundland, Kanada na die ikoniese Titanic se wrak sowat 4km onder die see te neem. Die totale tog is oor agt dae waarvan die duike af in die oseaan en weer terug na die oppervlak agt tot tien ure duur. Die duiktuig is Sondagoggend vroeg vir sy eerste duik vanaf die moederskip die Polar Prince gelanseer. Kommunikasie is sowat twee ure later verbreek.

Die riskante diepsee-sendings na die wrak van die beroemde Titanic wat in twee stukke op seebodem lê, dokumenteer die agteruitgang daarvan. Terselfdertyd word kernnavorsing oor die onbekende diepsee-omgewing, wat nog braak vir die mens se ontdekking-sin lê, gedoen.

Die tragiese einde van die statige Engelse passasierskip RMS Titanic wat in April 1912 op haar nooiensvaart van Southhampton na New York gesink het, gryp die mens se verbeelding tydloos aan. Nagenoeg 1 500 van die sowat 2 200 passasiers en bemanningslede het omgekom toe die skip ‘n reuse-ysberg getref en gesink het.

Dit lei nou onvermydelik tot vergelykings tussen die Titanic se wrede watergraf en die Titan se moontlike, soortgelyke lot. Die moderne duiktuigie was immers 111 jaar later onderweg om juis dié tragiese einde van die Titanic eerstehands gade te slaan. Die skeepswrak is eers in 1985 van die kus af in Newfoundland gevind, meer as 70 jaar nadat dit gesink het.

In 1997 het die Kanadese regisseur James Cameron die Titanic-tragedie op die grootdoek vergestalt. Sy Oscarbekroonde fliek Titanic met Leonardo DiCaprio en Kate Winslet waarvan hy ook die draaiboek geskryf het, is grensloos gewild en een van die grootste lokettreffers nog.

Cameron sorg vir ‘n verdere kinkel op die gebeure tans omdat hyself ‘n voorste diepseeduiker en diepseenavorser is. Nie net besit hy diepsee-duiktuie nie, maar het self talle male só die Titanic-wrak onder die see besoek vir vooraf-navorsing vir sy treffliek. Boonop was hy in die Deepsea Challenger-tuig in 2012 die eerste mens om ‘n solo-duik na die diepste punt onder die see te maak. Die Mariana Trench lê ‘n allemintige 11km onder die see in die westelike Stille Oseaan.

Met die horlosie wat die ure aftik, word die frenetiese soektog na die Titan en veral sy vyf bemanningslede vandag voortgesit. Die seine wat opgetel is, laat die hoop opflikker. Die Titan het in sy ontwerp juis die toerusting van die skatryk Suid-Afrikaans-gebore Elon Musk wat saam met Nasa in die gesogte ruimteresies voorloop, gebruik. Bestaande GPS-stelsels werk egter nie in die diepsee nie.

Intussen is die mensdom verenig in hoop om die brawe wateravonturiers lewend te vind, ook om self hulle mekwaardige storie te vertel. Nasa het hoeka gister deurbraakfoto’s gepubliseer van ‘n groot groen lig op die planeet Jupiter se noordpool. Dit is afgeneem deur een van sy  ruimtesatelliete in 2020. Nog ‘n bewys van die mens se ontembare avontuursin en onblusbare drang om grense te bly verskuif, deesdae doer bo in die ruimte maar ook diep onder die see. Al kom dit hartseergenoeg, soms teen die duurste prys.

Leave a Reply

error: Content is protected !!