Skip to main content

Die raaisels rondom die skielike, onverklaarbare siektetoestand van die voormalige Springbok-losskakel Derick Hougaard verdiep by die uur.

Terwyl die Liefling van Loftus in groot geheimhouding in waakeenheid 4.9 in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria lê en vir sy lewe veg, neem bespiegeling toe dat vergiftiging of ‘n oordosis medikasie ‘n rol in sy toestand kon speel.

Ofskoon niemand dit kon bevestig nie, neem hardnekkige gerugte toe dat die rugbyheld verlede Saterdag-oggend opgegooi het voordat hy hospitaal toe geneem is. Vriende van Hougaard (40) hou hoopvol duim vas dat ‘n toksiologieverslag binnekort vrygestel sal word om alle twyfel in hierdie verband die nek in te slaan.

Slegs nabye familielede van Hougaard word by die legende toegelaat. Die rugbylegende is steeds in ‘n koma en Die Waarheid kon intussen bevestig dat hy swaar gesedeer en wel aan ‘n ventilator gekoppel is, soos voorheen bespiegel is.

Sover vasgestel kan word, was slegs Hougaard se vriendin, die sangeres en vermaaklikheidspersoonlikheid Nadine, gister by hom. Sy was vergesel deur ‘n man wat glo voldoen aan die beskrywing van Tiaan Lombard, die baas van die AE Switch-beursiestelsel en een van Nadine se borge.

Hougaard het oor die laaste jaar aan verskeie mense gesê dat hy geen ooghare vir Lombard het nie en dat hy glo Lombard sleep vlerk by Nadine en probeer hom uit die prentjie kry.

‘n Jaar of wat gelede het Hougaard en Nadine hulle verhouding opgebreek nadat twee gesellinne beweer hulle het ‘n nag saam met die skopkoning in ‘n luukse hotel deurgebring. Een van die gesellinne, Marilize Engelbrecht, het later met die hele sak patats vorendag gekom: hulle is omgekoop om die rugbyheld te beswadder en het bankstate gewys om haar bewering te staaf. Hougaard het vas geglo die geld kom van Lombard.

Hougaard is ook kort voor ‘n belangrike wedstryd van die rugbyklub Noordelikes in sy huis aangeval en van sy ribbes is gebreek. Noordelikes is verlede jaar deur Hougaard se raad en wenke tot in die eindstryd van die Pretoriase liga gehelp. Hy het gemeen dat Lombard dalk opdrag kon gee om die aanval uit te voer.

Lombard het op sy beurt onlangs in ‘n Sondag-smeerkoerant beweer dit is alles snert. Hy het niks teen Hougaard nie en sy verhouding met Nadine is bloot professioneel, het hy gesê.

Na wat verneem word, was Nadine Vrydagnag by die meenthuis in Pretoria wat Tiaan vir haar gekry het.

“Ek het f***ol teen Derick nie,” is hy aangehaal. Volgens hom het hy nie tyd om met Nadine te sit nie, hy sien haar net so een keer ‘n maand op ‘n vergadering en sy betrokkenheid by haar draai grootliks om liefdadigheidsprojekte.

Die diamantmagnaat Louis Liebenberg vertel egter ‘n ander storie. Hy sê hy en sy vrou, Dezzi, het verlede Donderdagaand nog saam met Hougaard in Pretoria aandete genuttig. Hougaard was toe nog blakend gesond.

“Ek het verlede Donderdag die middag en aand saam met Derick deurgebring. Nadine het hom gebel en gesê Tiaan is weer gedrink en bedwelm en dat hy haar teister. Dat Tiaan by haar wou weet of Derick by my is. Hoe sou Tiaan weet dat ek by Derick was?”

“Ek het reeds gesê dat Derick baie opgewonde was om vir my en Dezzi te vertel van sy dokumentêr oor sy lewe wat die afgelope twee maande geskiet is. Dat hy só positief was en uitgesien het na sy onderhoude met Niekie van den Berg by Die Waarheid radio. Dat dit en sy beplande skopskool hom weer sin in die lewe gegee het,” sê hy.

Derick was die afgelope byna ‘n jaar betrokke by Die Waarheid Media, waar hy gereelde programme oor sport asook sy eie belangstellings saam met Van den Berg aangebied het.

“Derick het die aand gevra om alleen met my te praat buite die restaurant. Hy het my bedank vir als wat ek vir hom doen en toe lui die foon. Nadine wat oor Tiaan praat. Binne sekondes was Derick in angs. Het begin rondloop met sy foon teen sy oor. Het gesê dat Tiaan weet hy is by my. Hierna het ek hom gesê dat hy moet besef dat Tiaan en Nadine heeltyd kontak het hoewel sy daaroor vir hom lieg,” vertel Liebenberg.

“Derick het hierna by my gepleit om hom met R10 miljoen te help voor Maandag. Ek het gesê hy moet kalmeer en ek sou die volgende dag daaroor praat. Min het ek geweet hy sou nooit weer met my praat buiten twee WhatsApp-boodskappe die aand en die volgende dag nie.”

Voordat Hougaard huis toe is, het hy eers onthou om nog vir Nadine beesstert vir aandete te bestel om vir haar huis toe te neem.

Liebenberg het Saterdag vir Hougaard in die waakeenheid van Steve Biko opgespoor.

“Ons moes deur sekuriteit kom aangesien sy naam aspris verkeerd aangebring is op die hospitaal se rekenaar. Ek het vasgestel dat slegs Nadine vandag by Derick was met ‘n man,” sê hy.

Hy sê hy het langs Derick se bed gestaan en met hom gepraat. Hy meen Derick was toe al feitlik dood.

Hy vermoed Nadine het Vrydagaand met Derick baklei. “Dis hoe sy met ‘n baie saggeaarde Derick gewerk het. Dinge het te veel geword en Derick het ‘n oordosis pille of dwelms geneem. Nadine of wie ookal het vir Derick na die Staatshospitaal geneem, Saterdagoggend! Dit was reeds te laat.

Intussen word hy op n ventilator ‘aan die lewe gehou’. Hy is nie meer met ons nie maar die skyn word steeds gewek.

Ek en Dezzi het vir Derick leer ken as een van die mooiste siele op aarde. Ek dink hy is stukkend gebruik en verniel deur twee vrouens en verwoes deur Tiaan Lombard wat twee hoere gehuur het om vir Derick te knak.”

Dirk Lotriet, redakteur van Die Waarheid Media, bevestig Hougaard se sagte geaardheid.

“Hy is een van daardie spesiale mense waarvan jy nie die mooi onskuld in sy binneste kan miskyk nie. Dit is iemand wat kwesbaar, byna weerloos is teen die gewetenloosheid van die wêreld. Ek het hom ondersteun in sy merkwaardig suksesvolle stryd teen drank en voorskrifmedikasie en in die proses het hy ‘n hoogs gewaardeerde vriend geword wat my eie lewe verbeter het. Hy is vir my soos ‘n oudste seun, ‘n jonger broer wat van sy pyn in sy persoonlike verhouding, sy liefde vir sy kinders en sy uitsonderlike rugbykennis met my deel. Dit is een van die grootste voorregte in my lewe om hom te ken.”

Liebenberg het intussen vanmiddag vir Hougaard se pa, Bontes, in die Boland gekontak vir toestemming om hom na ‘n privaathospitaal te laat oorplaas. Hy het ook aangebied om hom en sy vrou, Riana, Gauteng toe te laat vlieg om naby Derick te wees. Bontes het gesê hulle sal wel nog opkom.

Derick se eerste vrou, die sangeres Karlien van Jaarsveld, het intussen alle navrae en kommentaar oor Derick van haar Facebook-profiel gewis.

Die paartjie was van 2013 tot 2015 getroud en het tweeling-seuns. Hulle is nie op goeie voet geskei nie.

Die teenoorgestelde is waar van Nadine se Facebook-profiel. Sy het nooit foto’s van Derick daarop gepubliseer nie, maar skielik pryk die rugbyheld daarop.

Leave a Reply

error: Content is protected !!