Perlemoenhandelaars is nóg ‘n slag toegedien toe lede van die SAPD Cookhouse Highway Patrol wat aan diens was twee mans vasgetrek en beslag gelê het op perlemoen ter waarde van meer as R3 miljoen.
Die lede het inligting ontvang en opgevolg oor ‘n verdagte voertuig wat op N10 vanaf Gqeberha na Cookhouse op pad was.
‘n Hoëspoed-jaagtog het tussen ‘n Nissan Navara-bakkie en die polisie ontstaan. Die lede het daarin geslaag om die voertuig tussen Cradock en Cookhouse af te keer.
17 sakke met 6 699 eenhede perlemoen is onder ‘n kombers versteek gevind. Twee mans van 30 en 40 jaar oud is gearresteer en aangehou ingevolge die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne – besit en vervoer van perlemoen. Die geraamde straatwaarde van die perlemoen is R3 100 000.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.