Sonnette Lombaard
Hy is opgewonde daaroor dat JV-vennote reeds weer kan registreer om in pakkies te belê en dat die lastige likwidateurs binnekort finaal uit die pad sal wees. Dan kan hy sy groot minerale droom vir alle Suid-Afrikaners terug op koers kry.
Só het sakeman Louis Liebenberg vandag op Die Waarheid Radio gesê as deel van sy reeks gesprekke op die radiostasie. Daarin spreek hy die stand van sake in sy maatskappye aan en kyk ook na die media se deurlopende en dikwels negatiewe beriggewing rondom hom en sy besighede.
Hy het verwys na die voorlopige likwidasiebevel vroeër teen een van sy maatskappye Tariomix. Dié hofsaak word in September voortgesit waarin Liebenberg se regspan, insluitende top advokate wat in arbeidsreg spesialiseer, redes sal aanvoer waarom die voorlopige bevel nie finaal gemaak moet word nie.
Liebenberg het opnuut bevestig dat hy as deel van sy reeks radiogesprekke bomme sal los rondom dié omstrede likwidasie en veral die betrokke likwidateurs. Hy kan tans net openbaar dat hy oor verdoemende bewyse beskik dat die likwidateurs reeds tydens die MTI-likwidasie in 2022 begin vis het na nog maatskappye waaruit hulle kan geld maak.
“Die aanslag teen ons was dus van die begin georkestreer. Boonop sal ek aanstons bewyse openbaar dat die likwidateurs kop en een mus is met die Meesterskantoor.
Hy het weer JV-vennote, wat nog nie in sy meningspeiling oor die voorlopige likwidasie van Tariomix gestem het nie, versoek om dit so gou moontlik te doen. “Die wet bepaal dat as 75% van die vennote teen likwidasie gekant is, word dit outomaties opgehef.” Die terugvoer wys reeds dat die oorgrootte meerderheid vennote nie die likwidasie steun nie.
“Die kaf word reeds van die koring geskei. Vennote stem reg want jy moet ‘n moroon wees om nie te wis nie dat die likwidateurs se rekords wys hoe boedels verwoes word omdat hulle nuwe, groter Ferarri’s in sig het.”
Met verwysing na die benarde landsituasie tans, het Liebenberg gewaarsku dat korrupsie erger as ooit is. “Mense word stil gemaak, maar dit sny diep in die tekstuur van enige samelewing in.”
Hy het Suid-Afrikaners aangeraai om op te hou om op skuld te leef, kredietkaarte op te knip en hande met hom te vat om die land vorentoe te neem. “Weens ons historiese verlede en bevolkingsamestelling kan dit net geskied deur dialoog en hande vat oor kultuurgrense.”
Volgens Liebenberg sal die ineenstorting van banke en markte wêreldwyd voortduur, terwyl die Oekraïnse oorlog ook die hele mensdom raak. “Wat ookal gebeur, ons toevlug moet na die Skrif wees, juis in tye soos nou.”
Hy het benadruk dat sy onmaterialistiese lewenswyse en uitkyk bewys dat hy nie sy sakeryk vir selfverryking bedryf nie. Sedert 2004 staan en val hy by sy droom om ons land se mineraalrykdomme terug in die hande van gewone Suid-Afrikaners te sit.
Hierin is die uitreik na mede-Suid-Afrikaners kern. Soos die inheemse Nama-bevolking en klein myners in Namakwaland waar hy steeds hoop om ‘n klein Kodesa met alle rolspelers in die streek binnekort te hou.
Intussen wag hy indringend nog mynlisensies af waarvoor aansoek gedoen is. Daarmee kan sy maatskappy ernstig begin delf na die hoogsgesogte rare metale op die Weskus en Namaland, asook in die aangrensende see wat ‘n spelbreker in die bedryf sal wees.
Met die pakkiestelsel amper herstel ná die likwidateurs se beslaglegging-manewales, verwag hy om binne ‘n week weer volstoom te kan begin handel dryf. Vennote kan reeds solank begin registreer en sal dan self sien dat al hulle geld wat reeds in was, steeds daar is.”
“Ons handel in vertroue want God beskerm en help ons, versterk ons arms om mekaar,” het Liebenberg driftig gesȇ.
Voorts het hy benadruk dat die Afrikanervolk weer ‘n basiese werketiek moet aanleer, asook ‘n verantwoordelikheidsin moet aankweek. “Werk het ‘n vloekwoord geword. Ons moet mense opnuut basiese vaardighede leer soos hoe om ‘n wiel te ruil, basies elektriese vaardigheid, asook hoe om paneelklopwerk te doen.
“As net 15 000 van die bestaande 44 000 JV-vennote hieroor koppe bymekaar sit, maak ons plan en stryk ons baie van ons landsprobleme vinnig uit.”
Liebenberg is oortuig dat die mense op vyandgroepe wat teen hom gedraai het, sal wis hulle was verkeerd en weer sal terug keer. “Ek soek net 10% van vennote se geld, dan ruk ons saam hierdie land reg.”
Hy het vennote nogeens aangeraai om hul kontrakte met die maatskappy deeglik vooraf te lees, omdat die aard van die besigheid hoë risiko sal bly.
Met die oog op die viering van nasionale Jeugdag Vrydag, het hy ten slotte ook ‘n boodskap vir die land se jeug. “Wat jy ookal doen, doen dit na die beste van jou vermoë. Ons land gaan mank aan in ‘n produktiewe kultuur wat ons al duurder te staan gaan kom. Hoeveel tieners maak nog hul beddens op soggens of sê dankie vir hulle ouers?” het Liebenberg gewonder.
“Skoolverlaters maak groot gewag van die sg. gap jaar. Dis nodig dat hulle besef dat wanneer hulle klaar die wêreld vol getoer het, moet hulle die gaps hier in die arbeidsmark kom vul,” het hy verduidelik.