Die joernaliste van Media24 is partydig, korrup en skryf met vooropgestelde idees oor hom. Die waarheid lyk veel anders as dit wat in die mediagroep se publikasies voorgehou word, het die diamantmagnaat Louis Liebenberg gistermiddag in ‘n onderhoud op Die Waarheid Radio aan die veteraan-omroeper Martin Jansen gesê. Maar hierdie ou gaan nie verder val vir hulle grappies nie… Dirk Lotriet het na sy waarde-oordeel oor die stand van die Afrikaanse media geluister.
Verlede Saterdagaand het Jana van der Merwe vir Liebenberg ‘n lys van 58 vrae gestuur wat hy oor onder meer sy sakebedrywighede twintig jaar gelede en van sy verhoudings van dekades gelede moes antwoord.
En sommer met die wegspring het sy dit duidelik gemaak dat die invalshoek van die artikel sal wees dat hy ‘n chauvinistiese vark en ‘n “beweerde” verkragter is.
“Ek is aangekla van verkragting deur ‘n Italianer. Ek was sewe en ‘n halwe jaar in die hof. Ek was vier keer in ‘n tronk. Ek is verkrag met ‘n besemstok in Modder Bee-gevangenis, die kapelaan kan vir jou vertel,” het Liebenberg gesê.
“Ek sê vir jou: ek is dit deur sodat Jana van der Merwe so ‘n stelling teen my kon maak. Ek is onskuldig bevind sonder om te getuig omdat hulle so gelieg het.
“Ek is aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Ek is aangekla van ontvoering. Ek is aangekla dat ek haar drie keer verkrag het.
“Sewe en ‘n half jaar later, in ‘n hof, word ek onskuldig bevind en die landdros sê vir daai vrou: ‘jy wou net daai man se geld gehad het’.”
Liebenberg vertel: “Ek het so seergekry dat ek twee dae teen ‘n muur moes staan dat die bloed teen my bene afloop, dat ek van binne verwoes was dat ek nou nog sukkel met my heupe en om te loop. Dìt kan Jana van der Merwe nie oor skryf nie. Wat sy skryf, is dat ek vroue mishandel.”
Van der Merwe het wel dieper in die artikel heel terloops ‘n enkele weggooilyntjie van vier woorde ingeskryf: “Louis is onskuldig bevind”.
Maar die trant van die artikel, ondanks sy onskuldigbevinding, is dat Liebenberg hierdie vieslike ou is wat al hierdie nare goed aan vroue gedoen het.
‘n Klaarblyklike teken van haar solidariteit met die kwaadwillige valse aanklagte teen die diamantman is die feit dat Van der Merwe die vrou wat die brutale, valse verkragtingsklag gelê het, se identiteit beskerm. Maar Liebenberg, die onskuldige, tenagekomde man, word geïdentifiseer.
“Skuilname van vroue word deurgaans gebruik. Hoekom sê sy nie dit is Pina Ferrante nie? Hoekom sê sy nie dit is Petra Naudé van Melkbos wat bipolêr was en stories opmaak dat sy kamstig aan my verloof was nie?” vra Liebenberg.
Hy sê hy het oor die jare al baie nare ervaringe met Media24 gehad. Ook met Maroela.
“Kom ons vat die Brenden Horner-kwessie. Rapport sê ek het R40 000 vir die Brendin Horner-stigting gee. Nee, ek het R50 000 vir Brendin se pa gegee omdat ek hom jammer gekry het. Ons het R800 000 aan daardie projek spandeer.
“Hoekom moet die media lieg oor basiese waarhede? As jy ‘n joernalis is vir jare by Media24, hoe kan jy met ‘n gewete skryf R40 000?”
Liebenberg vertel by daardie selfde Barberspan waar die gedenkmonument vir Horner opgerig is, het hy R200 000 vir SJ Du Venage gegee om hulle projekte na goeddunke te bedryf. “Waarom word dit verswyg?”
“Ons sit nou met Martus Visagie en Terésa Coetzee wat al my stemboodskappe versprei. Hulle plak en paste en copy, en dit definieer my.
“En wat doen die joernaliste? Hulle stuur vir my 58 vrae op Saterdagaand en soek antwoorde voor 11 die volgende oggend. Om 58 vrae te beantwoord rondom my verhoudings … ek kan jou besig hou vir ure met een verhouding. Ek moet moeilike vrae, moeilike intriges, antwoord aan die hand van stem-opnames wat in my kantoor gemaak is.”
Tog het hy nie opnames wat die oud-joernalis Terésa Coetzee in die wandelgange van Media24 gemaak het versprei nie. “Sy het opgeneem wat Kabous praat, wat Tim du Plessis se vrou praat… Ek het dit alles op my foon.”
Hy het steeds die opnames. “As daar nou ‘n afskrif van my foon gemaak word, is Media24 so diep in die moeilikheid rondom demokratiese beginsels
“Wat doen hulle? Hulle kies eensydigheid. Hulle kies om te luister na ‘n stemboodskap. As die ouditeur kom en hy spekuleer, vra Marthus hom vrae met voorbedagte rade.”
Liebenberg glo Visagie is in sy kantoor geplant. Hulle se hy is geplant deur die Suidlanders, maar ek dink nie dit is so nie – ek sal dit nog met kol. Wynand uitmaak, maar hy is geplant deur een of ander instansie. Ek weet nie of dit nasionale intelligensie is en of hy net lus was vir moeilikheid of geld maak nie… Hy het rondgeloop en al my privaatgesprekke opgeneem. En daardie skelm opnames word die joernalistiek.”
Liebenberg bevraagteken die werksetiek van hedendaagse nuushonde. “Joernaliste praat nie met my nie. Hulle stuur my net ‘n paar vrae. Hulle sensor my heeltyd. Kyk na Devi se onderhoud. Die gesensorde weergawe is twee, drie minute. Alles buite konteks.
“En Carte Blanche … ek praat net twee minute in ‘n hele program waar hulle begin het deur te besluit ek is ‘n skelm.
“Hoe begin die joernaliste vandag? Ek is seker ‘n joernalis wat van ‘n Christelik gefundeerde opvoeding opereer moet kom en sê Louis, ek het ‘n storie gehoor dat jy probleme het met vroue, maar trek weg met: Jy het nie verhoudings met jou ma en met jou broers nie. Sê net vir my: Is dit so of is dit nie?’
“Ek moet ‘n hele storie vertel. Ek moet vertel wat het met my en met my ma gebeur. Ek moet vertel watter rol ek gespeel het in ‘n gesin met ‘n gay ouer broer. Ek moet vertel hoeveel keer moes ek baklei en stoei en verdedig omdat ek my broer liefhet. Ek moet verduidelik wat het gebeur en in watter tipe verhoudings ek was.
“Maar hulle gee jou nie die kans nie. Hulle begin met ‘n invalshoek dat ek skuldig is. Hulle kom met 58 vrae en jy kom by ‘n stadium waar jy vir jouself sê: Is dit nodig; moet ek my hele lewe verdedig?
“Kyk na waarmee ek nou besig is. Beoordeel dit. Gaan na die myn toe en beoordeel dit. Kyk hoe betaal ek elke maand rekeninge. As ek nie rekeninge betaal nie, dink jy nie ons was al lankal onderdeur nie?”
Hy glo dat Media24 se verslaggewers uiters eensydig in hul beriggewing is. “Ek is onskuldig bevind op 19 Oktober 2019. Kan jy verstaan hoekom ek eers in Maart 2020 reg in my kop was om weer besigheid te doen? Maar daarvan hoor die mense nie. Hulle wil dit nie sê nie. ‘n Hele artikel moet daaroor gaan hoe ek onskuldig bevind is.
“Die hele artikel moet gaan oor die hofsaak en wat ek gesê het gebeur het. Die hele artikel moet gaan oor die dokter van Pretoria wat ‘n rekonstruksie van haar ongeluk toe sy haar been gebreek het gedoen het en gesê het ek het nie haar been gebreek nie. Sy het geval, ek was nie eers by nie. Ek het aangehardloop gekom en gevra wat gebeur het. Daaroor word nie geskryf nie.
“Dit het my gemaak soos ek is vandag teenoor die gemeenskap, want die gemeenskap lieg.”
Hy glo die media verkies om hom as iemand sinister uit te beeld, eerder om na die mens agter die omstredenheid te soek. “Ek is bereid om op ‘n video alles te sê waarmee ek sukkel, maar die media kleur my in as ‘n monster.
“Daar gaan baie mense deur hierdie lewe wat met ontsettende pyn sit en miskien skuldig is, maar ons veroordeel hulle vanuit die staanspoor.
“Ons wil hulle nie ‘n kans gee op verbetering nie. Daar sit onskuldige mense soos ek – ek het nie ‘n rekord soos ek hier sit nie – maar ek is die vieslikste monster, verkragter, alles. Maar ek is daar deur. Ek het die NPA-saak gewen. Nou kom die media en skryf my onder die hande van die likwidateurs in.
“Maar Liebenberg gaan nie val vir hulle grappies nie. Ek het genoeg invloed in die land, ek het genoeg gepraat, ek weet hoe om my mond te gebruik. Ek is nie besig om ‘n vertoë te lewer vir mense wat skuldig is nie. As jy skuldig is, betaal die prys vir jou skuld.
“Maar van 2004 af word ek skuldig bevind deur die Afrikaanse media. Hulle het begin met Dawid van Rooyen, Tim du Plessis wat my ‘n lastige brommer genoem het en ‘n klomp ander mense. Die feite word nie weergegee nie. Die hofsake waarin al die bewerings gemaak is, het ek gewen, maar ek word steeds deur Media24 skuldig gehou. Hoekom? Iemand betaal.”