Drie Britse toeriste is dood nadat ‘n skubaduik-boot waarin hulle gereis het, aan die brand geslaan het op die Rooi See aan die kus van Egipte.
“Dit is met groot spyt dat ons as toeroperateur met swaar harte moet aanvaar dat drie van ons baie gewaardeerde duikgaste in die tragiese voorval omgekom het,” het ‘n woordvoerder van Scuba Travel in ‘n verklaring aan Sky News gesê.
Daar word gesê dat die drie passasiers onder 15 gekwalifiseerde duikers was wat vir ‘n week lange verblyf aan boord van die ‘Hurricane’-boot was, wat deur Tornado Marine Fleet bedryf word. ‘n Brand het glo Sondag omstreeks 08:30 plaaslike tyd uitgebreek, waarna die drie toeriste as vermis aangegee is.
Twaalf Britse burgers, asook 12 Egiptiese bemanningslede, is suksesvol gered en na die duikoord Marsa Shagra, sowat 21 km noord van Marsa Alam, geneem.
“Toe die brand uitgebreek het, het 12 duikers aan ‘n inligtingsessie aan boord deelgeneem, terwyl die vermistes glo besluit het om nie daardie oggend te duik nie,” het Scuba Travel gesê.
Volgens die Rooi See-goewerneur het die brand waarskynlik deur ‘n elektriese kortsluiting in die enjinkamer ontstaan, en ‘n ondersoek is deur die staatsaanklaer se kantoor van stapel gestuur.