Skip to main content

Isaac Cloete  

Ongekende vreugde het Woensdag uitgebreek toe ‘n senior onderwysman onskuldig bevind is op aanklagte van verkragting.

Die gebeure het in die Springbok-streekshof plaasgevind, waar John Crew (57), tereg gestaan het op klagtes wat verband hou met die verkragting van ‘n negejarige meisie.

Die beweerde voorval het in Mei 2022 in die Crew’s se huis gebeur. Die meisie het daar gaan kuier en later die aand oorgeslaap, volgens polisiewoordvoerder, kol luit Sergio Kock.

Die slagoffertjie het vroeër getuig dat Crew al voor slaaptyd haar bo-bene (boude) gevryf het, maar sy het sy hande telkens weggedruk.

Sy het later gaan slaap. Nog later die aand het sy wakker geskrik en die oom voor haar gesien sit. Sy het ook ontdek dat haar broekie en langbroek afgetrek was. Sy het dit opgetrek.

Sy het hierna begin huil omdat haar geslagsdele gepyn en gebrand het. Sy het die voorval aan Crew se vrou gaan vertel. Dié vrou wou aan haar Vaseline aanbied vir die brandgevoel, maar die dogtertjie het dit geweier.

Nadat sy haar ma oor alles ingelig het, was die polisie ingelig. Crew is ‘n paar dae later (11 Mei, 2022)  gearresteer en was vir ‘n jaar in aanhouding omdat sy borgtogaansoeke telkens onsuksesvol was. Ook het hy van regsverteenwoordiger gewissel.

Tydens sy uitspraak het die landdros gesê dat Crew se kinders tydens hulle getuienisse die meisie se weergawe ontken het. Selfs Crew en sy vrou se getuienisse het met die van die meisie verskil.

“Beide partye het by hulle weergawes oor die betrokke aand se gebeure gehou. Dit is teenstrydig met mekaar, daarom moet die hof nou sy diskressie hier toepas. Dis baie moeilik om aan te dui wie die waarheid gepraat het.”

Die landdros het ook gesê dat dit moeilik was om te bepaal of Crew se kinders vooraf afgerig was om te getuig soos hulle wel getuig het.

Die hof het ook genoem dat ‘n deskundige, ‘n dokter, namens die staat getuig het dat die meisie wel ‘n skeurtjie gehad het. Daar was egter nie volle penetrasie nie. Die dokter kon ook nie aandui wat die oorsaak van die skeurtjie was nie. Dit het die staat se saak bemoeilik en die voordeel van twyfel is aan die beskuldigde gegee.

Die hof se beslissing was dus dat die staat nie sonder redelike twyfel kon bewys dat Crew haar wel verkrag het nie.

Nadat Crew onskuldig bevind was, het sy familie en vriende uitbundig binne en buite die hof gejuig en gedans. En die Here geloof.

Intussen het ‘n vroue-aktivis, Maria April, haar sterk uitgespreek teen die uitspraak. Volgens haar het die staat die familie gefaal. Sy voel dat die familie moet appelleer op grond van regsaspekte, soos verskeie regslui ook aangedui het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!