Skip to main content

Leierlande posisioneer vir voorloop met kunsmatige intelligensie

Merke, gereed, gaan. Die moderne eeu se toortegnologie is op ons. Kunsmatige intelligensie (KI) is bestem om ons lewens vir goed te verander. Nuusberigte word deesdae gereeld ‘gekaap’ deur uitvindsels en deurbrake met robotte en masjiene wat saam met die gevorderde mens nuwe grense fluks oorsteek. Die KI-resies is nou wyd in volle swang, besaai met dik duwwels onderweg. Nasies slyp juis lank hul tande hiervoor want die robotrewolusie is ‘n blink kans vir nuwe aansien en voorbok speel. Sonnette Lombaard berig.

Die nuus van die wêreld se eerste baba wat gebore is vanuit ‘n oorgeplante baarmoeder, wat deur piepklein-robotte in sy ma se buik geplant is, moet niemand seker verbaas nie. Dié wonderwerk-seuntjie het laas maand, soos beplan, met ‘n keisersnit, weliswaar twee weke te vroeg in Swede veilig die lewenslig gesien. Hy het die skaal op net oor die 3kg getrek. Dit gaan goed met hom en sy 35-jarige ma, berig die Britse koerant Daily Mail.

Hoewel baarmoederoorplantings sedert 2014 in ’n paar lande geskied, was dit die eerste keer dat robotarms hiervoor ingespan is. In die minder as 100 baarmoederoorplantings tot voor die nuutste deubraak is sowat 50 babas gebore.

Die Sweedse ma se swangerskap is moontlik gemaak nadat ‘n familielid ingestem het om haar baarmoeder aan haar te skenk. ‘n Bevrugte eiersel is toe via IVF daarin geplant. Dis die eerste keer dat robotte vir dié superfyn-prosedure ingespan is.

Die sukses hiermee bring groot, nuwe hoop vir derduisende vroue sonder ‘n baarmoeder wat graag wil swanger raak. Ernstige siektes soos onder meer kanker en gene-kondisies kan die verwydering van ‘n baarmoeder noodsaak.

Volgens die koerantberig het die chrirurge klein robotte ingespan vir die inplanting omdat dit minder gevare inhou en ook die kanse op infeksie en bloeding verskraal en boonop hersteltyd verkort.

Dis in Oktober 2021 by die Universiteit van Gothenburg in Swede gedoen, wat lank ‘n leier in baarmoederoorplantings is. Die baarmoeder is eers uit die skenker verwyder deur dit versigtig van die omliggende bloedvate weg te trek en deur die vagina te trek. Dis toe deur klein insnydings in die ontvanger se bekken geplaas en met die bloedvate en vagina verbind.

Vir die prosedure is die kameras met piepklein-robotarms met chirurgiese instrumente in die ontvanger se laer maag geplaas. Daarmee kon die span gelyktydig 3D-beelde van die pasiënt se binnekant sien. Tien maande later is ‘n embrio met IVF geskep en in die oorgeplante baarmoeder geplaas. ‘n Paar weke later was die swangerskap in swang.

Die ma het goed gevoel reg deur haar swangerskap, het dr. Pernilla Dahm-Kähler, adjunk-professor by die universiteit se Sahlgrenska Akademie en hoofchirurg in die komplekse oorplantingsoperasie, agterna gesȇ.

”Met robotte is nuwe ulta-fyn presisie tydens sleutelgatchirurgie nou moontlik wat die baan open vir ingewikkelde mediese prosedures wat tot nou onmoontlik was. Dis ongetwyfeld die chirurgie van die toekoms.”

Die nuusmakerbaba is inderwaarheid reeds die 14de een wat in die universiteit se oorplantingsprojek gebore is en nog unieke geboortes word afgewag.

Dat kunsmatige intelligensie ons bestaan ten diepste gaan omdolwe, word by die dag duideliker. Die KI-uitvindsels op mediese gebied soos hierbo is veral welkom. So loop ‘n verlamde man nou ook met hulp van KI. Neurone is in sy brein ingeplant wat as ‘n digitale brug dien om sy brein met sy spiere te konnekteer. Hierdie pionier-deurbraak in Switserland bring hoop vir talle verlamdes en pasiënte ná beroertes. Die eerste antibiotikum met die hulp van KI het ook onlangs die nuus gehaal.

Terselfdertyd besin die voorste lande tans indringend oor hoe om die toenemende en wye aanslag van KI-tegnologie wat dikwels met taai morele en etiese ingrepe kom,  tydig die hoof te bied. Baie meen hoeka die wêreldleiers het te lank gesloer want die deurbrake daarmee geskied reeds teen ‘n stink spoed en dit impakteer menslewe soos ons dit ken wyd.

Die Britse premier Rishi Sunak het pas aangekondig dat sy land gasheer sal speel in die Britse herfs vir die eerste globale KI-beraad. Dit volg besprekings oor KI by verlede maand se G7-beraad in Japan.

KI is ewe hoog op die agenda van die Europese Unie (EU), wat aanstons sal besluit oor regulasies om die risiko’s van KI te beheer. Dit sal veral daarop gemik wees om mensregte met dié ingrypende spelbreker te beskerm.

Dit is dus duidelik dat die leierlande eens stadig uit die blokke, intussen bygekom het en nou inderhaas posisioneer en planne beraam om ook voordeel en aansien uit KI-tegnologie te trek. Die KI-resies is amptelik aan!

Ons moedertaal Afrikaans bly ook nie agter nie want op die taal- en kommunikasie-gebied dolwe KI reeds woes om. In Afrikaans het robottaal of die rekenaarstem as outeur reeds gedebuteer. Dit sal na verwagting ‘n kragspeler in veral die Afrikaanse letterkunde word.

‘n Suid-Afrikaner is aan die voorpunt hiervan en doen vanuit Turkye baanbrekerswerk met kunsmatige intelligensie in die Afrikaanse taalkuns. Dr. Imke van Heerden het vanjaar die eerste KI-digbundel in Afrikaans die lig laat sien.

“ … buitendien, fluister hy

die ou lewe sterf

as jy verdwyning se tyd dra …”

Dié gedigfrases van ‘n blikbrein, weliswaar met menshulp, wys samewerking tussen mens en masjien is die toekoms, meen Imke. Met rekenaarkreatiwiteit integreer die twee onverwante velde van kuns en tegnologie, en word as die volgende grens in KI-navorsing beskou.

Imke, dogter van ons letterkunde-reus Etienne, is ‘n vaandeldraer vir Afrikaans in kunsmatige letterkunde. Vanuit Turkye doen sy sedert 2020 haar navorsing oor Afrikaans en KI. Sy is die besoekende assistentprofessor aan die Koç Universiteit in Istanboel nadat Turkye aan haar ’n Internasionale Genootskap vir Uitstekende Navorsers toegeken het. Haar driejaar-projek se begroting is sowat ZAR 1,5 miljoen.

Haar eietydse interdissiplinêre navorsingsprojek lewer literêre perspektief oor KI-skryfwerk. Bekend as AI as Author (authorai.ku.edu.tr), het sy drie Turkse navorsers in haar span. As deel daarvan is AfriKI gebore. Dit staan vir Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie en is die eerste KI wat skeppende, of kreatiewe teks in Afrikaans genereer.

Volgens Imke is AfriKI ’n poging om Afrikaans te voeg by die lys tale waarin natuurlik taalgenerasie reeds wêreldwyd geskied. Sy is oortuig dat KI-tegnologie menslike kreatiwiteit op nuwe, vreemde, uitlokkende maniere sal aanvul. “KI funksioneer as gereedskap om kunstenaars en skrywers te inspireer en ondersteun en kan selfs vernuwing in Afrikaans lewer.”

Dit terwyl laehulpbron-tale soos Afrikaans juis ’n uitdaging in die gesig staar “omdat hulle nie oor die nodige grootskaalse hulpbronne (in vergeleke met Engels) besit nie, en agtergelaat kan word”.

Imke werk nou aan ‘n KI-geskepte draaiboek vir ‘n kort fliek in Afrikaans. Sy wys op die voorspelling dat KI teen 2049 ‘n New York Times-topverkoper sal skryf.

Leave a Reply

error: Content is protected !!