Skip to main content

Na dese sal ek elke keer mooi loer na wat dalk in die porseleintroon kan wegkruip wanneer ek dit weer besoek. Het jy geweet dat nie net spinnekoppe, slange of rotte in die donkerte kan skuil nie, maar daar was ook al ander soorte diere wat hulself daar tuisgemaak het?

Rotte swem nogal gereeld in toiletpype op. In 2016 was ‘n ou Ier deur só ‘n rot aangeval en hy moes hospitaal toe gaan vir reuse bytplekke aan sy rug.

Snaaks genoeg het daar in dieselfde jaar ‘n 10 voet luislang in ‘n toilet in Thailand opgeseil en die ongelukkige manlike gebruiker aan sy mees kwesbare liggaamsdeel beetgekry. Die man moes die slang se kake oopdwing om sy kroonjuweel daaruit te bevry. Beide die man en die slang het die beproewing oorleef.

Wat is dit met 2016? Nog ‘n toilet-skok … maar hierdie keer ‘n kangaroe in Australië wat verslaaf is aan toiletpapier eet. Dieselfde kangaroe het ‘n maand later weer sy drang vir toiletpapier uitgeleef en wéér ‘n toilet besoek om sy daaglikse papierdieët aan te vul.

Buitetoilette is net so gevaarlik, veral as jy die deur oop hou om die buitelug te bewonder. ‘n Kanadees het sy Moses teëgekom met ‘n swart beer. Die dier het na hom gehap, en hom daarna aan die broekspyp beetgekry toe hy dit met skoppe probeer afskrik het het. Die man is met sy kaal bas die woud in gesleep, maar een van sy vriende het sy geskreeu gehoor en die beer met een skoot neergevel. Die toiletganger moes steke aan sy kop, bolyf en arms kry. Ek is seker hy sal volgende keer agter ‘n toe deur sit.

Australië blyk ‘n gevaarlike plek te wees. En vir een man, spesifiek, ekstra gevaarlik. Die arme vent is twee maal in dieselfde jaar deur ‘n spinnekop aan sy geslagsdeel gebyt. En in geval jy hieroor gewonder het: Ongeveer 2000 Australiërs word jaarliks vir spinnekopbyte behandel.

Paddas is veral ekstra aangetrokke tot toiletpype. Gelukkig byt hulle nie sommer mense aan die jy-weet-waar-nie…

Van die minder ‘gewone’ toiletmonsters wat al aangemeld is, is ‘n slapende rob, verskeie buideldiere, eekhorings en so eg aan Suid-Afrika, ‘n baber.

Leave a Reply

error: Content is protected !!