Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die stygende aantal daaglikse misdade, insluitende wrede geweld in Suid-Afrika, ook teenoor weerlose bejaardes, vergelyk met lande wat reeds diep in aktiewe burgeroorlog verkeer. Terseldertyd is die regering se onvermoë om in te gryp, kommerwekkend.

Só reageer die politieke analis prof. André Duvenhage verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, wyl Suid-Afrikaners steier ná nog twee plaasaanvalle waarin vier mense wreedaardig omgekom het. Dit juis wyl die nuutste statistieke bevestig in die eerste vyf maande vanjaar was daar reeds 15 plaasmoorde en 108 plaasaanvalle regoor Suid-Afrika.

Hoewel druk op die ANC-beheerde regering uit al meer kringe hoorbaar toeneem om meer daadwerklik op te tree in die groterwordende stryd teen plaasmisdaad landwyd, val dit op die dowe ore van ‘n opgeblase, korrupte regering. Dit sluit in sy “lam” oneffektiewe polisiemag wie se skreiende onvermoë om wet en orde te handhaaf, by die dag nuwe laagtes bereik.

Oor die naweek is berig oor nog vier blanke mense, waarvan twee bejaardes, wat wreed op hul plase in onderskeidelik die Wes-Kaap en Limpopo vermoor is. Die bekende sakevrou Anneke Claasen (73) en ‘n familielid Hennie Claassen (77) is Saterdag op die plaas Klipfonteinhoek in Limpopo onmenslik wreed vermoor. Hulle verkoolde lyke is by die hotel by die bekende Eggo-grotte naby Ohrigstad gevind. Beide was gemartel en toe lewend aan die brand gesteek. Anneke se lyk was so verkool dat sy nie op die toneel uitgeken kon word nie.

Die plaas Klipfonteinhoek is dekades lank in die Claassen-familie se besit. Die Eggo-grotte daarop is net so lank al, ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid. Claassen se seun, Jan-Daniël Claasen, meen sy ma is vermoedelik deur twee of drie gewapende rowers verras en toe oorval. Die geskokte Jan-Daniël het aan lede van die media gesê dis ‘n wrede einde vir hul twee geliefde familielede wat by uitstek gemeenskapsmense was en hul lewe daaraan gewy het om vir ander werk te skep.

Net ‘n dag vroeër is die lyke van die middeljarige egpaar Pierre en Belinda de Kock op hul plaas Aurora naby aan Piketberg in die Swartland gevind. Die egpaar, beide in hul vyftigs, is ook barbaars vermoor.

Niemand is nog in hegtenis geneem in beide voorvalle in die noorde en suide nie.

Intussen is ook berig dat ‘n vroulike omroeper van die Vrystaatse radiostasie Overvaal Stereo 96.1 FM Vrydagnag tuis oorval en erg aangerand is.

Die stasie berig dat die vrou (61) in die oggendure in Viljoenskroon wakkergeskrik het met ‘n onbekende jong man in haar slaapkamer. Hy wou haar verwurg. “Im here to kill you,” het hy aan haar gesȇ.

Die skraal vrou het uit die bed gekom en terugbaklei. Sy kon in die donker haar gaspistool in die hande kry terwyl die aanvaller haar aggressief geruk en gepluk het en bly mik het na haar keel. Hy het die gaspistool by haar afgeneem en haar teen die kop daarmee geslaan.

Sy het besef sy moet veg vir haar lewe. Sy het al die geld in haar besit vir hom gegee. Hy het reeds haar selfoon in sy besit gehad. Sy het tot die Here gebid. Die aanvaller het skielik teruggestaan en by die veiligheidshek wat hy oopgebreek het, uitgeglip en doodluiters weggestap.

Die vrou wie se identiteit beskerm word, het in ‘n geskokte en beseerde toestand na die radiostasie se ateljee gegaan waar nooddienste en die polisie ontbied is.

Volgens die radiostasie gaan Viljoenskroon, eens ‘n veilige boeregemeenskap, al maande gebuk onder geweldadigheid van plundelaars, nagtelike inbrake en algehele verwoesting in die dorp. Misdaad in Suid-Afrika is buite beheer en niemand is gevrywaar daarvan nie, het die radiostasie se voorsitter, Johan van der Merwe, gesê. “Dit terwyl dit elke landsburger se  grondwetlike reg is om veilig in ons land te voel en te wees.”

Inmiddels bevestig die nuutste statistieke dat plaasmisdaad in Suid-Afrika, veral moorde, voortwoed. Die nie-regeringsorganisasie Rome Research Institute of South Africa reik tweeweekliks statistieke oor plaasmisdaad uit en werk dit maandeliks by. Daarvolgens was daar in Mei 4 plaasmoorde en 10 plaasaanvalle teenoor 1 moord en 5 aanvalle in April. Die ooreenstemmende syfers vir Maart, Februarie en Januarie vanjaar is 5 en 11, 2 en 15 en 3 en 22.

Dit bevestig eskalerende misdaad landwyd en gepaardgaande ineenstorting van die strafregstelsel, verklaar Duvenhage. “Daar is ‘n totale verlies aan wet en orde. Met die disfunksionele polisiemag, bly kriminele aktiwiteite net toeneem.”

Hoewel plaasmisdaad deel is van die breër patroon van ‘n groot gros misdade wat die landsburgers tans ongekend teister, is die “mate van geweld en gepaardgaande aggressie daarvan ook teenoor bejaardes hartseer en totaal onaanvaarbaar,” sê Duvenhage.

Hy gee toe die verslegtende ekonomie kan ‘n rol speel, maar meen dis te gerieflik om plaasmisdaad net daaraan te wil toeskryf. “Ek meen eerder daar is elemente van politieke opsweping daarin wat ook ‘n rol kan speel. Terselfdertyd groei die aanvraag na wapens en ammunisie wat tot nog misdade sal lei.”

Die prentjie verdonker verder omdat dit duidelik is die staat het nie meer die vermoë om ons veiligheid te verseker nie, aldus Duvenhage. Dit word ook bewys in die stygende aantal moorde en verkragtings ook in stedelike gebiede.

Hy benadruk dat dit beteken dat Suid-Afrikaners al meer kwesbaar is en indringend moet besin omdat hulle voortaan al meer vir hul veiligeid selfaangewese sal moet word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!