Skip to main content

Uitstekende sinergie tussen die K9-eenhede van Makhanda, Cradock, Gqeberha en Queenstown, het gelei tot die arrestasie van ‘n 46-jarige verdagte en die herwinning van perlemoen ter waarde van meer as R1 miljoen.

Inligting is Saterdagaand ontvang dat ‘n wit Toyota-bakkie wat op die R350-pad ry, perlemoen vervoer. Die voertuig is sowat 27 km buite Makhanda verlate gevind nadat dit in ‘n ongeluk betrokke was.

Die drywer van die voertuig is per ambulans vervoer, maar het volgehou dat hy nie behandeling benodig nie, en is by ‘n vulstasie afgelaai.

Polisielede het hom opgespoor waar hy by die vulstasie in ‘n kamertjie weggekruip het. Hy is teruggeneem na die ongelukstoneel. Niks is in die voertuig gevind nie, maar toe lede die onmiddellike omgewing begin deursoek het, het hulle 17 sakke perlemoen (5810) gevind wat onder kartondose versteek was. Die geraamde straatwaarde van die weekdiere is R1 020 000. Daar word verder beweer dat die perlemoen vanaf Gqeberha na Bloemfontein bestem was.

Die verdagte is aangehou op ‘n aanklag van die besit van perlemoen en sal na verwagting vandeesweek in die hof verskyn.

Leave a Reply

error: Content is protected !!