Skip to main content

Daar is net drie maande oor voordat die gasheerland, Frankryk, die All Blacks op 8 September in die openingswedstryd van die rugby-wêreldbeker takel.

Die Springbokke se program lyk druk voordat hulle Frankryk toe gaan om hulle wêreldkroon te gaan verdedig.

Die Bokke speel ses toetse, waarvan twee op tuisbodem beslis word, voordat hulle hul eerste WB-wedstryd afskop.

Suid-Afrika draf op 8 Julie op Loftus Versveld teen Australië op die veld, op 15 Julie takel hulle die All Blacks en op 29 Julie speel hulle op Ellispark teen Argentinië.

Hulle trotseer die Argentyne op 5 Augustus weer, voordat hulle op 19 Augustus in Cardiff teen Wallis en op 25 Augustus teen Nieu-Seeland op Twickenham speel.

Die Springbokke speel in Groep B saam met Ierland, een van die gunstelinge, Skotland, Tonga en Roemenië.

Slegs die twee top-spanne in elke groep dring deur tot die kwarteindronde.

Met nog drie maande en baie toetse oor voor die openingswedstryd, is dit net ‘n idioot wat voorspellings sal waag. Maar Die Waarheid is nie bang nie – ons steek ons nek sonder skroom uit.

Ek het hier op kantoor in ons kristalbal gekyk en hier is wat ek raakgesien het:

Baie mense gaan hulle onkunde tentoonstel:

Die wêreldbeker skei elke vier jaar die bokke van die skape, en die jaar gaan dieselfde wees. Ons voorspel dat baie mense nie eers die prys waarvoor daar gespeel word, se naam gaan regkry nie. As iemand jou vertel die William Webb Ellis-trofee is op die spel, kan jy by voorbaat weet daardie persoon weet niks. Die regte naam is Die Webb Ellis-beker – lees maar self op die beker wat daar staan.

Daar gaan ‘n nuwe kampioen wees:

Die twee voorste spanne in die wêreld, Ierland en Frankryk, het nog nooit die Webb Ellis-beker omhoog gehou nie. Maar hierdie jaar kan dit gebeur.

Frankryk gaan die beker wen:

Les Bleus is dalk nie heel bo-aan die wêreld-ranglys nie, maar hulle is waarskynlik die beste span op die planeet. Hulle het in Julie 2021 laas verloor. Frankryk is tradisioneel hulle eie grootste vyand by Wêreldbeker-toernooie. Die span het al drie keer die eindstryd op skouspelagtige wyse gehaal, maar elke keer danksy onbestendigheid verloor.

Maar hierdie kan Les Bleus se jaar wees.

Hulle speel in Groep A saam met Nieu-Seeland en as hulle die kwarteindronde haal, is hulle waarskynlike teenstanders die Springbokke of Ierland. Wedstryde teen hierdie twee kan enige kant toe gaan.

As hulle daar wen, speel hulle waarskynlik teen Engeland of die Aussies – wat ‘n makliker wedstryd kan wees.

As hulle die druk verwerk, kan hulle vanjaar die kroon dra. En hulle sal gewilde kampioene wees – niemand speel rugby so opwindend en aanskoulik soos die Hane nie.

Buiteperde:

Die Springbokke. Die All Blacks is die enigste span wat ‘n wêreldkroon kon verdedig (2015). Suid-Afrika sal hulle dit bitter graag wil nadoen.

Die Bokke is die enigste van die vorige kampioene wat nog nooit in ‘n eindstryd verloor het nie, hulle span is propvol talent en ervaring en op hulle beste kan hulle enige span in die wêreld klop.

Die All Blacks gaan in die kwarteind verloor:

Daar’s net een ding mooier as All Black-wenrugby, en dit is om te sien hoe die All Blacks verloor.

In 2007 het hulle teen die Franse in die kwarteind verloor – en die geskiedenis het maar die manier om homself te herhaal.

Die All Blacks het weliswaar verlede jaar sewe toetse agtereenvolgend gewen, maar dit is nie een van die beter spanne in swart oor die laaste paar dekades nie.

Daar’s baie werk wat vir hulle voorlê en tyd is nie aan hul kant nie.

Nieu-Seeland sal waarskynlik óf Suid-Afrika óf Ierland in September in die kwarteindronde moet aandurf, en albei dié wedstryde is taai. Albei spanne het die All Blacks in 2022 geklop.

Leave a Reply

error: Content is protected !!