’n 33-jarige vrou het gister haar eerste hofverskyning in die Pinetown-landdroshof gemaak ná haar inhegtenisneming vir meineed vandeesweek.
Die vrou, wat ’n huishulp op Amandweg in Marriannhill Park is, het ’n saak van huisroof geopen en aan die polisie gesê sy was besig om klere aan die wasgoeddraad te hang toe sy ’n geluid van binne die huis hoor kom. Sy het verder beweer toe sy gaan ondersoek instel, het sy ‘n man gesien wat ‘n TV-stel dra. Sy het ook beweer sy het gesien hoe ‘n ander verdagte die oprithek breek en dat die man juweliersware gesteel en haar van haar selfoon beroof het voordat hy in ‘n silwer voertuig van die toneel gevlug het.
Polisie-ondersoeke het bewys dat die vrou ‘n vals saak geopen het nadat kringtelevisiebeeldmateriaal van naburige huise gewys het dat sy die hek vrywillig vir die twee mans oopmaak. Sy is daarna van meineed aangekla. Die polisie doen ‘n beroep op gemeenskapslede om nie met misdadigers saam te werk en later vals sake te open nie. Hulpbronne en tyd wat bestee word aan die ondersoek van versinde sake kan belê word om die res van die provinsie te bedien en te beskerm.