Skip to main content

Sonnette Lombaard

Met die herfs se groet en winter se verwelkoming word die mensgees tans nogeens diep beproef. Ongekende aanslae op ons oorlewingsgees uit alle oorde woed tans nie net hier in donker Afrika o Afrika nie maar oor die Aardbol heen. Want sien, menskind leer toe skynbaar niks uit ons soms sware voortbeur tot hier nie. Gaan dit mos goed vir lank, kriewel ons vir die kante draai wat wys dat die mens, wel, die mens bly. Vol selfsug, hebsug, magsug, giersug, geldsug … dit dryf ons vanaf die saamkomste om die vroegste vure tot fluks in die millennium in. So donder ons aan, maak seer, kry seer en meld dan wraggies weer vir dieselfde pak slae paraat aan.

So word ek gister wreed uit my vroeë winterhibernasie geruk, meer spesifiek onheilspellend geloei toe angswekekkende sirenes vanuit my leefvertrek opklink. Die BBC nuus berig oor nog ‘n kerntoets van daai bose dik diktatortjie in Noord-Korea. So kragtig dat dit noodsirenes in buurland Suid-Korea en Japan laat afgaan wat landburgers daar in angs laat skuiling soek. Die toets was weliswaar ‘n astrante kyk-hoe-skrik-julle-flop, maar bevestig die Russiese beer Putin is nie al magsbeluste wie slaggereed kwyl om die wankelende wêreldvrede dramaties vir eie gewin te versteur nie. En moenie dink ons is veilig in verre Afrika se suide nie – ons is reeds pens en pootjies ingesleep in die brose mens- en grensvrede. Ons regering se  gulsige hande om hierin ook voortydig opportunisties korrup te wees, is op rekord. G’n deurdagte deurdinke wat my en jou en ons kan red en bevoordeel nie, want enige winste daaruit is als eksklusief vir die spyskaart van daai walglike, langerwordende soustrein VIPs.

Daarom krul my tone toe oor dié twiet gister van Anton Gerashchenko, ‘n oudminister in die Oekraïne. Dit was nadat Moeder Rusland vir die eerste keer werklik eie medisyne begin sluk het met ‘n verwoede hommeltuig-aanval op die Russiese hoofstad.

Hy twiet dat dié aanval Dinsdag nie net Moskou geteiken het nie, maar veral die woongbied Rublevka in oog gehad het. Dis die elite nes waar Putin en sy ryk en invloedryke vrinne saans knus kop neerlê. Putin homself is inderhaas wakkergemaak toe sy veiligheid daardeur bedreig is. Een van die drones het 3km van sy huis in Ilyinskoye geval. Sy bure daar sluit in eerste minister Mikhail Mishustin, verdedigingsminister Sergey Shoigu, senatore en hooggeplaaste regs- en weermaglui en ander bondgenote. En natuurlik die vele mistresses en nabye familielede van die eksklusiewe binnekringe …

Die drone-aanval het ook sentrale vestigings van die strategiese Russiese missielmagte geteiken. Kry vir jou papa Putin!

Dié skouspelagtige lugspeletjies in die voortslepende Oekraïense oorlog met onbemande, rekenaarbeheerde hommeltuie lui sommer ook digitale oorlogvoering ten aanskoue van almal naby en ver van die brandpunt lewendig in. ‘n Luide bevestiging waar die mensdom en sy volskaalse vooruitgang homself bevind amper ‘n kwarteeu in die nuwe millennium in.

Terselfdertyd, stiller in die agtergrond, ontvou nog reuse-deurbrake met nuwerwetse, eietydse vooruitgang wat menswees soos ons dit ken, snel omdolwe. Teen ‘n prys natuurlik. Soos dit mos kom.

Die voorste ontwikkelende lande sit tans indringend menskoppe bymekaar oor hoe om die toenemende en wye aanslag van Kunsmatige Intelligensie (KI) die hoof te bied. Nie dat gevaartekens oor dié blink tamelet lankal flikker nie. Ons kan dié hoë hekkie ook geensins ontwyk nie. Ja, dit laai ‘n wavrag turksvye af, moreel en eties, maar dit bring ook groot hoop vir byvoorbeeld beter en langer leef.

So het ‘n verlamde man pas die nuus gehaal toe hy met hulp van KI kan loop. Nuwe geplantde neurone in sy brein vorm ná dese ‘n digitale brug om sy brein met sy spiere te konnekteer. Hierdie pionier-deurbraak in Switserland kan vorentoe onder meer talle verlamdes en pasiënte ná beroertes help. Op die hakke daarvan is ook berig oor die eerste antibiotikum met die hulp van KI. In ‘n wêreld met genoeg ellendes, wie wil hierteen stry?

Intussen pantser ons eers vir die drie koue wintermaande, vererger deur die verwagte donker beurtkragte waardeur ons hier ter plaatse moedig moet stuur. Dan doem Albert Camus se tydlose troos tydig op: In the midst of winter, I found there was, within me, an invincible summer. That makes me happy. For it says that no matter how hard the world pushes against me, within me, there’s something stronger – something better, pushing right back.

Leave a Reply

error: Content is protected !!