Die munisipaliteit van Kamiesberg in Namakwaland wil die inwoners van Eureka, wat selfonderhoudend en knus in hulle huise woon, in die winter-reënseisoen in weermagtente stop en hulle huise platstoot.
Die meeste van die blanke nedersetting naby Garies in die Noord-Kaap se inwoners is bejaard – sommige in die negentigs.
“Hier is ‘n dramatiese, landswye belang vir enigiemand wat in strukture woon waar bouplanne nie in plek is nie,” sê Walter Niedinger, regsverteenwoordiger van die inwoners. “Die bouwet soos hy tans is, se implikasie is dat ‘n stadsraad enige informele struktuur kan platstoot. In ‘n land waar ‘n baie groot persentasie van die bevolking in strukture sonder bouplanne woon, is hierdie saak van geweldige nasionale belang.”
Volgens Niedinger is dit hartseer dat die stadsraad ‘n las op die belastingbetaler plaas deur hierdie geveg op te sit eerder as om die mense van Eureka te help om hulle huise reg te registreer en in die proses ‘n situasie te skep waar hulle ‘n inkomste in die vorm van eiendomsbelasting kan genereer.
Die geveg tussen Eureka en Kamiesberg kom al ‘n lang pad. Die stadsraad het eers die hof in Garies genader om die eiendomme te laat sloop, maar het daardie saak verloor. Daarna het hulle dit na die appelhof in Kimberley geneem, waar die konstitisionaliteit van die sloping ter sprake gekom het omdat Art 4 (1) van die nasionale bouwet nie voorsiening maak vir die verskaffing van alternatiewe behuising in die geval van sloping nie.
Die twee regters het beslis dat die konstitusionele hof eers genader word om te beslis oor die grondwetlikheid van die bouwet, en dat die munisipaliteit met ‘n plan vir alternatiewe behuising vorendag kom.
As deel van hulle hofstukke vir die voorverhoor op 12 Junie, waartydens die pad vorentoe in hierdie saak gekarteer sal word, het die munisipale bestuurder, RC Beukes, toegegee dat daar nie alternatiewe behuising in die streek beskikbaar is waarvan die standaard ooreenkom met die van die huise op Eureka nie.
Die beste wat hulle kan voorstel, is dat inwoners gratis in die karavaanpark op Garies in weermagtente kan woon. Hulle sal darem 50 eenhede krag per maand en 2 kiloliter water gratis kry en die woonwapark se ablusiegeriewe mag gebruik.
“Hulle wil Eureka se mense omskep in nomades. Ons sal moet vra vir bokke,” het Niedinger tong-in-die-kies aan Die Waarheid gesê, maar beklemtoon dat die omvangryke implikasies van die saak dit ‘n kwessie van groot erns maak vir die meeste mense in Suid-Afrika.