Skip to main content

Twee verdagtes sal in die hof verskyn nadat hulle in hegtenis geneem is kort ná ’n voorval op ’n kleinhoewe in Oranjeville. Die twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 42 jaar oud, is by ‘n padblokkade in Viljoensdrift in hegtenis geneem.

Die polisie is Saterdag na ‘n kleinhoewe by Oranjeville, waar die Van Biljon-gesin tuisgaan, ontbied. Daar word beweer dat ses gewapende mans by die huis ingebreek het en terwyl mnr André van Biljon (70) probeer het om hulp van ander boere oor ‘n radio te bekom, het die oortreders verskeie skote afgevuur. Mnr Van Biljon het skietwonde aan die bors en hand opgedoen. Sy seun, Lukas van Biljon (47), is ook aangeval en die oortreders het hom verskeie kere met ‘n mes gesteek. Hulle het ook kinders met kabelbinders vasgebind.

Die verdagtes het gevlug met ‘n Range Rover wat verlate in Strydomstraat in Oranjeville gevind is. Die verdagtes het daarna in ‘n Toyota Camry gevlug toe hulle die blou ligte van die polisie gewaar. Omliggende polisie en boere het alle paaie afgesper en die voertuig is by ’n padblokkade by Viljoensdrift voorgekeer. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem. Daar is ook op die voertuig beslag gelê.

Hulle sal eersdaags in die Heilbron-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof en poging tot moord.

Leave a Reply

error: Content is protected !!