Dit sal niemand in Birchleigh in Kempton Park verbaas nie, maar daar het vanoggend weer ‘n vragmotor onder die Elgin-brug vasgesit.
“Ek verwag dat daar vandag seker drie keer vragmotors sal vassit. As daar ‘n week is met ‘n dag waarop daar nie ‘n trok vassit nie, is dit ‘n goeie week,” het die woordvoerder van ‘n Kemptonparkse Gemeenskapsorganisasie aan Die Waarheid gesê.
Die probleem word vererger deur die feit dat Elginweg ‘n hooftoevoerroete tot Birchleigh en ander voorstede in die gebied is.
Hy skryf die probleem toe aan onkunde oor vragmotorhoogtes onder bestuurders. Daar is by die brug ‘n bordjie wat die maksimum-hoogte duidelik aandui.
En ook die feit dat ‘n vragmotor effe groei as die vrag afgelaai is – ‘n vragmotor kan dus dalk met ‘n vol vrag onderdeur die brug ry, maar haak as dit leeg is.
Rdl Amanda Davidson, stadsraadslid van Wyk 15 waarin die brug val, skryf op Facebook aan inwoners dat die saak na die provinsiale owerhede ge-eskaleer is omdat die plaaslike owerheid nie die wa deur die drif kan trek met die probleem nie.
“Niks kan fisies aan die brug gedoen word nie. Daar kan net verbeterde padborde en GPS-waarskuwings aangebring word. Ons kan nie hoër gaan nie, aangesien treine nie Birchleigh-stasie op ‘n helling/daling kan binnegaan of verlaat nie. Ons kan nie laer gaan nie, want daar is ‘n 66kV-kabel wat beskadig is in ‘n vorige poging wat Kempton vir 2 weke sonder krag gelaat het,” sê sy.
“Oorhoofse kettings wat vragmotorbestuurders vroeg waarsku, is uit die SA Padverkeerstekenhandleiding geskryf. Om vragmotors met meer as ‘n sekere massa te verbied is nie ‘n opsie nie omdat die gewig nie die probleem is nie – die probleem is die hoogte en bestuurders se gebrek aan kennis.”