Skip to main content

Kobie Cilliers

RUGBY

Ingesteldheid is een van die groot redes waarom Munster Saterdagaand in die eindstryd van die United Rugby Championship (URC) op die DHL-stadion met 19-14 met die Stormers afgereken het.

Die verskil tussen sukses en mislukking in beroepsport op die hoogste vlak is inderdaad ingesteldheid. Die Ierse klubspan het eenvoudig as die hongerder span na Kaapstad gereis en ‘n groter wil as die tuisspan gewys om voor ‘n rekord 56 336 toeskouers te seëvier.

Daar was ander faktore wat ‘n rol gespeel het in die Stormers se nederlaag, soos die onvoldoende standaard van die speel-oppervlakte en die Stormers se bedenklike wedstrydplan, maar meer daaroor later.

Eerstens, welgedaan Munster. Die Iere het hul seisoen met slegs twee oorwinnings in hul eerste sewe kragmetings begin. Maar hulle het sake omgekeer en die seisoen met ses agtereenvolgende seges – almal weg van die huis af ­ – afgesluit. Dit is voorwaar ‘n noemenswaardige prestasie.

Nietemin, toe die Stormers-losskakel Manie Libbok Saterdagaand sy vinger op ‘n arrogante wyse na ‘n groep Munster-verdedigers uitsteek terwyl hy oor die doellyn gehardloop het vir sy onderskepdrie, het hierdie skrywer geweet daar kom moeilikheid.

Daar het heel week verlede week ‘n ongemaklike gevoel geheers onder verskeie Stormers-ondersteuners en diegene wat gehoop het dat ‘n Suid-Afrikaanse span die URC-titel sou wen.

Die aanloop tot die eindstryd is oorheers deur gesprekke oor die video van Joseph Dweba en sy Stormers-spanmaats wat meestal met drankies in die hand in ‘n losie in die DHL-stadion Munster se oorwinning teen Leinster in die ander URC-eindstryd vier.

“Yeah! We’re going to f**k them up!” het die haker Dweba – met sy dogter op sy heup – geskree nadat die eindfluitjie in Dublin geblaas het. Munster het immers die onmoontlike verrig deur Leinster op hul tuisveld te skok en aan die Stormers ‘n “makliker” eindstryd in Kaapstad te besorg.

Sosiale media het weer as euwel uitgetroon en die video van die feesvieringe het binne minute op Twitter versprei. En daarmee saam die narratief dat Stormers windgat is. Hoewel dit nie die rede vir die Stormers se gejuig was nie, is die indruk geskep dat hulle reken Munster is ’n swakker span as Leinster.

Graham Rowntree, Munster se afrigter, kon nie vir beter inhoud gevra het vir sy spanpraatjies om sy spelers vir die eindstryd te motiveer nie.

Dit het so bietjie herinner aan die Wêreldbeker-toernooi van 2019 toe al wat ’n Engelsman is gereken het die Webb Ellis-beker gaan Londen toe ná Eddie Jones-hulle se spogsege oor die All Blacks in die halfeindronde. Engeland is man vir man beter as die Springbokke, het die Britte verkondig. Toe klop die Bokke Engeland met 32-12.

Dit was darem die laaste keer wat ‘n rugbywedstryd op die onaanvaarbare speeloppervlakte in die DHL-stadion beslis sal word.

‘n Kombinasie van eende-weer in die Moederstad verlede week en die feit dat die DHL-stadion ‘n meervoudige funksie vervul en vir ander byeenkomste gebruik word, het die grasveld meer soos ‘n modderput laat lyk. Dit het telkemale voorgekom of die Stormers se gevaarlike agterste driehoek weens die gebrek aan vastrapplek op ‘n koekie seep prober hardloop.

Gelukkig word daar in die afseisoen ‘n nuwe oppervlakte bestaande uit natuurlike en kunsmatige gras in die stadion aangebring wat meer gepas is vir rugby, veral wat skrumwerk betref.

Ongelukkig gebeur dit te laat vir die Stormers, wat Saterdag weens die verkeerde wedstrydplan op die swak oppervlakte dit baie moeiliker vir hulleself gemaak om hul URC-titel te verdedig.

John Dobson, afrigter van die Stormers, het agterna die blaam vir sy span se nederlaag aanvaar.

“Die speeloppervlak was nie geskik vir ons wedstrydplan nie,” het Dobson gesê.

“Miskien moes ons byvoorbeeld ons lynspoed stadiger maak en nie soveel teenaanvalle loods nie. Dis egter moeilik om die wedstrydplan net vir een wedstryd te verander.”

Hulle moes hul wedstrydplan aanpas. Spelskeppers en dorings op die aanval soos Libbok, Leolin Zas, Angelo Davids en Damian Willemse kon nie hul gebruiklike towerkunsies in sulke toestande uitstal nie.

“’n Mens het min rugby gesien, maar ek wil nie klink soos iemand wat die speeloppervlak as ’n verskoning gebruik nie.”

Veral Libbok se vertoning het weer vrae laat ontstaan of hy oor die temperament beskik, die sogenaamde “BMT”, om vir die Bokke in groot druk-wedstryde te gedy.

Hy kon in die Stormers se vorige twee kragmetings nie ‘n voet verkeerd sit nie, maar Saterdagaand was ‘n ander verhaal.

Hy was onbestendig, sy taktiese skopwerk en skoppe uit die hand uit was swak en sy besluitneming was nie goed genoeg nie.

Libbok is nietemin ingesluit in die groep van 33 spelers wat genooi is na die Bokke se oefenkamp van Maandag tot Woensdag in Durban.

Die groep sluit nie oorsese spelers soos Handré Pollard en Elton Jantjies in wat voorheen die aanspraakmakers op die Bokke se nr. 10-trui was nie.

MOTORSPORT

Red Bull se Max Verstappen het Sondag in Monte Carlo sy derde Formule Een-oorwinning van die seisoen behaal nadat hy die Monaco Grand Prix met ‘n uitstekende vertoning op ’n sopnat baan gewen het.

Verstappen het ook in Bahrein en Australië geseëvier en spog met twee tweede plekke in onderskeidelik Saoedi-Arabië en Azerbeidjan.

Die Spaanse veteran Fernando Alonso (Aston Martin) was tweede gevolg deur Esteban Ocon (Alpine), Lewis Hamilton (Mercedes), George Russell (Mercedes) en Charles Leclerc (Ferrari).

Die wedren het vir die eerste 53 van 78 rondtes voordat dit begin reën het, nie veel opwinding opgelewer nie. Maar sake het summier verander toe die hemele oopmaak, met die meeste van die spanne wat terug kuipe toe is om na natweer- en intermediêre bande oor te skakel.

Toe dit harder begin reën het, het verskeie jaers van die gladde baan af gegly, onder meer Verstappen wat ’n versperring liggies getref het, maar nie sy motor beskadig het nie.

Namate die reën opgehou het en die baan begin uitdroog het, het sake na byna normaal teruggekeer.

Dit was die 25-jarige Verstappen se 38ste loopbaanoorwinning en sy 83ste podiumplek.

TENNIS

Die Franse Ope het Sondag in Parys begin.

Die tweede major-toernooi van die jaar word vanjaar die vir die eerste keer sedert 1998 sonder die beseerde Rafael Nadal óf die uitgetrede Roger Federer beslis.

Dié toernooi op die beroemde kleibane van Roland Garros in die Franse hoofstad beloof egter steeds om oor die volgende twee weke te betower.

Novak Djokovic sal in die afwesigheid van sy vermaarde teenstander Nadal hoop om die 23ste Grand Slam-titel van sy loopbaan te wen.

Twee ander groot gunstelinge is die Spanjaard Carlos Alcaraz wat die laaste klompie weke die toernooie in Barcelona en Madrid gewen en Djokovic as die wêreld se voorste speler onttroon het, en die Rus Danill Mededev, wat twee weke gelede sy eerste kleibaantitel, die Italiaanse Ope in Rome, verower het.

As alles verloop soos die organiseerders hoop dit sal gebeur, sal Djokovic en die Rus Andrey Rublev mekaar in die kwarteindronde pak, voordat die Serwiër dan met Alcaraz in die halfeindronde swaarde kruis.

In die afdeling vir vroue kan die Pool Iga Swiatek die eerste vrou in 16 jaar word om haar titel suksesvol te verdedig.

Swiatek , wat tydens die toernooi haar 22ste verjaardag vier, is saam met Aryna Sabalenka, wat in Januarie die Australiese Ope gewen het, en Elena Rybakina, Kazakstan se Wimbledon-kampioen, die drie groot kanonne.

Leave a Reply

error: Content is protected !!