Skip to main content

Die internasionale voortvlugtige Ruth Lawrence wat in Oktober verlede jaar in Bloemfontein in hegtenis geneem is, is vandeesweek aan Ierland uitgelewer op aanklag van dubbele moord.

Ruth Lawrence en haar eks-verloofde, Neville van der Westhuizen, is albei gesoek vir ‘n dubbele moord wat gedurende 2014 in Ierland plaasgevind het.

Neville van der Westhuizen, wat tans tronkstraf uitdien vir nog ‘n moord wat hy in Kwa-Zulu Natal gepleeg het, is ook in hegtenis geneem op die uitleweringsversoek vir die dubbele moord in Ierland. Sy uitleweringsproses is tans in die Durbanse landdroshof aan die gang.

Die arrestasie en uitlewering van Lawrence kom as gevolg van samewerking tussen die Ierse Nasionale Polisie, Garda Siochana, wie se spanlede vroeër die week in Suid-Afrika aangekom het, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens INTERPOL NCB Pretoria; die Direktoraat Prioriteitsmisdaadondersoeke; SAPD-speurders en misdaadintelligensie.

Lawrence is Woensdag van Bloemfontein na Pretoria begelei vanwaar sy uiteindelik later die aand uitgelewer is. Lawrence is aan die Ierse polisie oorhandig wat haar daarna na Ierland sou terugneem op aanklagte van moord.

In die afgelope vyf jaar het lede van INTERPOL NCB Pretoria suksesvol meer as (60) voortvlugtiges in hegtenis geneem wat op uitleweringsversoeke en INTERPOL Rooi Kennisgewings gesoek word. Van die sestig (60) gesoekte vlugtelinge wat gearresteer is, is twee-en-veertig (42) vlugtelinge suksesvol uitgelewer en ‘n verdere sewe-en-twintig (27) uitleweringsversoeke is tans voor verskeie howe in die Republiek van Suid-Afrika.

INTERPOL NCB Pretoria het ook daarin geslaag om (11) elf gesoekte voortvlugtiges wat intussen terug aan Suid-Afrika uitgelewer is om verhoor te word, suksesvol op te spoor en te reël vir hul aanhouding.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens deur INTERPOL NCB Pretoria werk steeds nou saam met wêreldwye wetstoepassingsvennote om te verseker dat Suid-Afrikaanse gesoekte vlugtelinge in die buiteland sowel as internasionaal gesoekte misdadigers wat in Suid-Afrika skuil, gearresteer word en geregtigheid in die gesig staar.

Leave a Reply