Twee mans wat van ‘n gewapende roof van ‘n koeriervoertuig verdink is, is gisteroggend noodlottig gewond tydens ‘n skietgeveg met die polisie by Nuweland-Oos.
Die polisie het in die vroeë oggendure gereageer op ‘n voorval waarin ‘n koeriervoertuig langs die N2-snelweg in Paddock beroof is. Die verdagtes het onder meer elektroniese toestelle gesteel.
Ondersoeke het die polisie na Nuweland-Oos gelei waar drie verdagtes besig was om die buit af te laai. Die verdagtes het die polisie se instruksies om oor te gee geïgnoreer, en het op die polisie losgebrand. ‘n Skietgeveg het gevolg waartydens twee verdagtes noodlottige skietwonde opgedoen het. Die derde verdagte is in hegtenis geneem en twee vuurwapens is op die toneel gevind.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is na die toneel ontbied vir verdere ondersoeke.