Skip to main content

Isaac Cloete  

Dit kan nie meer betwis word dat vrouerugby kerngesond is op die platteland nie.

Veral vrouerugby in Namakwaland staan kop bo water uit teenoor die res van die Noord-Kaap, volgens kenners in rugbykringe.

Die afgelope naweek se provinsiale vrouerugbytoernooi op Springbok het net weereens hierdie stelling bevestig. Hier het drie substreke se spanne van Frances Baard, Pixley Ka Seme, ZF Mgcawu teen Namakwaland s’n deelgeneem tydens die interdistriks-vrouerugbytoernooi. Die vyfde substreek, John Taolo Gaetsewe van die Kuruman-area, het nie deelgeneem nie.

Die uitslae van die oggend was as volg: Namakwaland 41 & Pixley 0; Logan 17 & Sol Plaatjie 0; Logan 31 & Pixley 5; Namakwaland 29 & Kimberley 0.

In die finaal het Namakwaland vir Logan 17-0 getroef.

Logan (Calvinia) is eintlik deel van die groter Namakwaland en het ‘n baie goeie toernooi gehad.

Namakwaland se oorwinning oor Logan beteken dat hulle nou die Griekwas se kampioen vir 2023 is.

Volgens Avron Thomas, direkteur van die departement van sport, kuns en kultuur op Springbok was dit ‘n geslaagde toernooi waartydens Namakwaland hulle gehalte en baasskap getoon het. Volgens hom bestaan die Griekwa vroue-rugby span basies uit spelers van veral Namakwaland en ook Logan. Soveel soos 92% reken hy.

“Dit wys net dat Namakwaland vroue-rugby in die Noord-Kaap oorheers weens die goeie spelers, afrigting en strukture hier,” het hy vertel.

‘n Delegasie van die Griekwas Rugby Unie uit Kimberley het ook die geleentheid op Springbok bygewoon.

Leave a Reply