Skip to main content

Sonnette Lombaard

“Dankie tog, God!” Só het van die vroue gereageer nȧ die nuus dat die eens geliefde familie-vermaakster Rolf Harris dood is. Die Australies-gebore Harris (93) het as kluisenaar aan kanker in Brittanje gesterf nadat sy roemryke loopbaan in skande beëindig is.

Die bebaarde Harris was tot ses jaar gelede as “seksmal”-pedofiel agter die tralies nadat die bom oor sy vergrype teenoor jong meisies oor dekades gebars het. Dít wyl sy ster as talentvolle sanger, kunstenaar en TV-aanbieder in miljoene huishoudings geskitter en hy wyd geëer en vereer is.

Harris is lank nie ál beroemde en veral “vriendelike oompie” wie se openbare ster in flarde neerstort oor magsmisbruike en ander vergrype teenoor kollegas, vroue, mans en kinders wyl hulle deur hordes aanbid en dikwels in die samelewing as rolmodel voorgehou word. Die lys word net al langer.

Soos almal se gunsteling,TV-pappa, die Amerikaanse komediant Bill Cosby, wie se seksvergype met vroue hom liederlik van sy gewildheidstroon laat duiwel het. Soos met Meghan Markle nou, was über-kletskoningin Oprah voor om hulle beuel te blaas en hulle as soort, wel, nie-wit-aardsengele aan ons te wil verkwansel.

Get real, wil ek hier hardop sê en dadelik doem nog so ‘n Oprah-endorsed klong, Michael Jackson op. Oor sy pionier-musieknalatenskap kan niemand stry nie; helaas jy swyg eerder oor Wacko Jacko se persoonlike tierlantyne, die man het dan intussen gegroet …

Moet ook nie die ander kleinkassie-kletskoningin en lesbiese vaandeldraer Ellen DeGeneres vergeet nie, wat ewe hard getuimel het nadat haar kollegas haar eenparig en luidkeels as opperste, onaangename boelie gebrandmerk het.

Ditto die Oscar-bekroonde gay-akteur Kevin Spacey wie se loopbaan steier nadat sy jarelange vergrype teenoor mans, veral jonger, ontbloot is. Die ironiese punt hier, is dat mens nie iemand bloot op hul velkleur of seksvoorkeur moet bevoordeel bo die ordentlike reëls wat vir almal anders geld nie.

Nog walgiese gevalle is die skatryk-finansier Jeffrey Epstein wie se seksorgies op sy eie private eiland te midde van sy vriendskap met hogeres soos die gevalle Britse prins Andrew en die Clintons, gedy het.

En natuurlik die koddig-afstootlike Harvey Weinstein. Lafaard Jeffrey Epstein het godsgenadiglik in die tronk selfdood gekies, wyl Hollywood se stermanipuleeder en sekspes Weinstein eiehandig vroue se #MeToo-beweging op tou gesit het.

Dan het pronkperd (weliswaar ‘n slordige een) Johnny Depp wie deur miljoene evas begeer word, se gril gewoontetjies met drank, dwelms en Delilahs tot onlangs die nuus oorheers.

Jy hoef ook nie ‘n Einstein-kloon te wees nie om te weet dat die diepte van die misbruik- en vergrypberg in Lalaland en die mega-vermaakbedryf nog braak lê. Wanneer gelddrange vrye teuels groei en roem in visier is, buig of vou die spelreëls supervinnig.

Vergryppeste van watter aard ookal, vind jy oral. In ons eie agterplaas boer helde met kleivoete. Gesiene kerkman Solly Ozrovech en tennisster Bob Hewitt het beide opskrifte gehaal oor hulle onvermoë om hul hande tuis te hou van die jonger geslag.

En wie vergeet rugbyheld Joost se vryetyd-kaskenades; al het die gevalle volksheld se siektestryd en dood daarna sy landgenote se harte weer versag.

Krieketgod Hansie se Aardse versoekings het sý val bewerkstellig lank voordat sy vliegtuig in die Kaapse berge neergestort het.

Magsmense soos politici het ook ‘n befaamde geneigheid vir oor die tou trap. Bill Clinton se Monica-eskapades in die Withuis het hom byna gesink. Daar is ook die “gelukkige” politieke en ander ikone oor wie se vergrype net gePIK en gefluister word – hulle gaan graf toe sonder dat hul skandes ten volle oopgevlek is.

Feit bly, die vinger wys terug na ons “gewone” sterflinge en die media wat immers hierdie mede-mense verhef tot trone én daar hou, selfs al weet ons mos van waar ‘n rokie trek … En ja, menswees bly kompleks en taai en dit ís maklik om van ver te kritiseer. Nogtans verontskuld dit g’n ernstige vergype nie, waarvan die skade soms lewenslank klou en hartseer genoeg, tot soortgelyke vergrype in daaropvolgende geslagte kan lei.

In sy beroemde topverkoperboek The Road Less Travelled in 1978, tref die Yank psigiater wyle M. Scott Peck reeds in die openingsin met sy stelling: Life is difficult. Inderdaad, maar dan weer, die einste Peck kon self nie dit waaroor hy suksesvol vir miljoene gepreek het, navolg of sy eie raad daarin uitleef nie.

Leave a Reply