Skip to main content

Zondagkraal –   Blom

“…hierdie hande werk, hierdie hande werk… net vir jou..”

Met die lirieke en simboliese woorde, wat amper aan die Bybelverhaal van Jakob en Ragel herinner, maak die rockgroep, Zondagkraal,  vandeesmaand hulle toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf.

Dié snit, Blom, wat amper-amper in ’n nuwe genre genaamd plaasrock beweeg, is sterk liriekgedrewe en vertel die storie van harde arbeid onder die bakkende son, ’n vuurhoutjie in die mond en ware liefde.

“Ons weet nie regtig waar ons in die musiekmark pas nie,” koor die manne van die groep wat bestaan uit Hannes Eloff, Roelf Fritz en Christaan van Biljon. “Nie een van ons snitte klink dieselfde nie. Ons streef wel daarna om stories te sing oor iets wat elke dag met mense gebeur. Luisteraars móét aanklank by ons snitte kan vind.”

Blom is ’n snit wat  ’n mens aan die dink sit; ’n snit wat gelatenheid van teenstrydighede tussen arm en ryk, tussen hande-arbeid en weelde, nie sommer net voetstoots aanvaar nie, maar waar die hoofkarakter “tandeknersend” deur die dae en jare werk om ten einde vir sy geliefde dit waaraan sy gewoond is te kan gee. Geld, is hulle gevolgtrekking, kan gelukkig nie liefde koop nie…

Hannes, Roelf en Christaan het op die naam Zondagkraal besluit, want eerstens beteken die woord “dag van rus” en tweedens simboliseer dit hulle diep geloof in die Here. Kraal beteken weer “plaas” – ’n plek waar hulle bly en werk; lag en huil.

“Ons al drie is hart-en-siel plaasmense en ons droom daarvan om eendag ons eie plaas te besit en die plaas se naam gaan Zondagkraal genoem word,” vertel Roelf, wat ook een van die groep se woordkunstenaar is. “Hannes kom uit ’n musikale huis uit en was ook voorheen deel van ’n rockgroep wat die land platgetoer het. Sy ouers is beide operasangers en Hannes het ook al saam met sy ma op die verhoog verskyn. Hy kan ook goed kitaar speel; ons  ander twee is maar net goed met ink en woorde,” lag Roelf.

Hannes en Roelf het verlede jaar besluit om dié groep te begin en het sedertdien hande vol liedjies geskryf. Genoeg vir twee volle albums, sê hulle. “Ons is beide mal oor musiek, ons mense, en ons kultuur. Ons hoop dat ons met ons musiek ’n nalatenskap agterlaat. Iets vir ons mense beteken,” sê Roelf. Christiaan het vroeër vanjaar by die groep aangesluit.

Blom is sterk liriekgedrewe en Hannes se diep tenoor maak van die snit pure luisterplesier.

Dit  vertel die storie van ’n “arm man wat op ’n ryk vrou verlief geraak het.”

“Die man,” vertel Roelf, “se moed was nie gebreek nie en hy het elke dag hard in die son gewerk om vir haar ’n huisie te bou.”

Die snit is ook gegrond op werklike gebeure. Roelf sê dat hy dikwels na mense se stories luister en daarna liedjies daaroor skryf.  “My vriend se vrou het my nou die dag vertel dat haar pa baie teen hulle verhouding gekant was; die pa was ’n ryk man, die minnaar ’n arm man, maar hy was nie bang om hard te werk en vir sy gesin te sorg nie. Vandag is hulle gelukkig getroud en hulle het drie kinders. Vir hom is geluk nie op geld gebou nie, maar op die liefde wat hy vir sy gesin het.”

Dié snit simboliseer mense wat elke dag baie hard werk om die beste vir hulle gesinne te gee. Die boodskap wat die snit wil oordra is dat al gaan dinge hoe moeilik, geliefdes bou elke dag ’n huisie vir mekaar.

Blom is seker een van die beste rocksnitte wat die jaar uitgereik is. Dit is tegnies goed versorg en sluit ook aan by die nuwe generasie se “musiek-en-liriek-beweging.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!