Isaac Cloete
Die Valke stap met breë vlerke rond nadat ‘n vermeende diamantsmokkelaar uiteindelik vasgetrek is.
Die vermeende smokkelaar, Owen Kowa (40), is deel van ‘n trio wat onlangs betrap was met ongeslypte diamante. Hy, Lionel Cloete en Joseph Kheola, was op 18 Mei deur die Valke in die Upington-area gearresteer.
Voor dit het die polisie inligting ontvang dat ‘n manspersoon van plan was om ongeslypte diamante hier te verkoop. Die polisie het begin om ‘n ontwrigtende operasie van stapel te stuur. Nadat ‘n potensiële koper die diamant by Kowa vir R120 000 gekoop het, het die polisie toegeslaan, volgens die polisie-woordvoerder, Nomthandazo Mnisi,
Die polisie het ook twaalf selfone, ‘n ongeslypte diamant (4 karaat) en ‘n BMW 3 gekonfiskeer. Hulle het reeds in die hof op Upington verskyn. Al drie is vrygelaat op borgtog van R5 000 en die saak is tot 18 Julie uitgestel.
Kowa was tydens April in ‘n ander onwettige bedrywigheid betrokke. Op dié dag het die cops sy Hyundai gestop. Hier was R510 170 gevind waarvoor hy en die twee ander insittendes (27 en 37) toe nie rekenskap kon gee nie.
Die polisie het die geld gekonfiskeer en ‘n navraag-ondersoek was geopen. Ook was hulle aangekla vir die oortreding van die immigrasie-wet, volgens die polisie-woordvoerder, sers. Timothy Sam.
Dit het later aan die lig gekom dat Kowa ‘n welbekende vermeende dwelmsmous is. Hy is nie ‘n buitelander nie soos voorheen vermoed was. Blykbaar is hy ‘n swart SA burger, wat op Okiep in Namakwaland woon. Kheola is ook van Okiep en Cloete van Bergsig (Springbok).
Die betrokke dag van die vorige voorval was Kowa glo op pad na die Nuttabooi-myn, naby Komaggas, het hy toe vertel. Hy het egter heftig ontken dat hy by onwettige diamanttransaksies betrokke was. Sy verweer was verder dat die kontantgeld aan ‘n Port Nollothse maatskappy behoort het, wat onlangs gestig was.
Kowa sal waarskynlik net die bloedgeld (R510 170) verloor sonder vervolging as die hooggeregshof later oor die vorige saak uitspraak moet lewer.
Intussen is die Valke bly dat hy laasweek by Upington met die diamante betrap was. Hiervoor móét hy nou uiteindelik in die hof verskyn.