Lumé van Schalkwyk
Nelson Mandelabaai – sabotasie word vermoed nadat 23 groot substasies binne sewe dae uitgeskakel het
In die afgelope sewe dae het die Nelson Mandelabaai metro byna konstante elektrisiteitsonderbrekings ervaar, aangesien 23 substasies uitgeskakel het.
Die metro, ‘n motorbedryf-vervaardigingspilpunt, is die teiken van politieke onstabiliteit en van verskeie dreigemente ná die skorsing van sewe Elektrisiteitsdepartement-amptenare nadat forensiese ondersoekers bewyse van massiewe korrupsie gevind het.
Retief Odendaal, uitvoerende burgemeester van Nelson Mandelabaai, het ‘n beloning aangebied vir inligting wat kan lei tot die arrestasie van diegene wat betrokke was by die sny van ‘n 66 kilovolt-lyn wat die sewe munisipale wyke in en om KwaNobuhle sedert Donderdag sonder elektrisiteit gelaat het.
Die metro het strafregtelike klagte by die polisie aanhangig gemaak.
Odendaal het gesê hulle vermoed sabotasie aangesien slegs ‘n klein gedeelte van die kabel by ‘n strategiese plek verwyder is.
‘n Forensiese ondersoek ná die ontploffing by ‘n groot substasie in Maart 2023, het gelei tot die skorsing van 7 elektrisiteitsbeamptes.
Die substasie het ‘n belangrike deel van die ekonomie, die Coega-nywerheidsontwikkelingsone, asook Motherwell bedien.
R40 miljoen se skade is deur die ontploffing aangerig.
Nelson Mandelabaai se burgemeesterskomiteelid vir elektrisiteit en energie, Lance Grootboom, het gesê amptenare is hard besig om talle uitdagings aangaande die elektrisiteitsvoorsiening oor die metro te herstel.
“Die kragonderbrekingsake sluit die vandalismeverslae in wat die Mabandla-substasie geraak het, terwyl sommige die gevolg is van die onlangse swaar reën. Ons is bekommerd dat NMB in die afgelope sewe dae 23 groot elektrisiteitssubstasieonderbrekings oor alle gemeenskappe gesien het met die jongste vandalisme wat sewe wyke in die KwaNobuhle-kluster raak.”
Hy het gesê hy, Odendaal en stadsbestuurder Noxolo Nqwazi, het Sondag senior amptenare van die Elektrisiteit- en Energiedirektoraat ontmoet om ‘n manier te vind om die metro se kragtoevoer te stabiliseer.
“Ek het ‘n gedetailleerde verslag aangevra oor alle onlangse onderbrekings en spesifiek versoek dat indien .. ‘n gebrek aan instandhouding of sabotasie ontdek word, streng aanspreeklikheid en stappe geneem word teen enige persone wat geïmpliseer word.”