Indië sal verpligte toetse in regeringsbeheerde laboratoriums van hoesstroop wat vir uitvoer bestem is, instel, ná ‘n vlaag kindersterftes.
Die nuwe reël, wat vanaf 1 Junie in werking tree, is ingestel nadat 18 kinders verlede jaar in Oesbekistan gesterf het en 66 in Gambië, nadat hulle glo Indies-gemaakte hoesstroop toegedien is. Die sterftes het kommer laat ontstaan oor die veiligheidstandaarde van Indië se farmaseutiese industrie van $41 miljard.
“Die uitvoer van hoesstroop sal toegelaat word … onderhewig daaraan dat uitvoermonsters getoets word asook die lewering van ‘n ontledingsertifikaat uitgereik deur enige van die (aangewese) laboratoriums met ingang van 1 Junie 2023,” het die Direktoraat-generaal van Buitelandse Handel in ‘n kennisgewing gesê. Die omsendbrief word beskou as die Indiese regering se poging om die kwaliteit van hoesstroop te verifieer voordat dit uitgevoer word.
Verlede Oktober het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ‘n wêreldwye waarskuwing uitgereik teen hoesstroop wat deur Indiese vervaardigers gemaak word nadat gevalle van besmetting in die Marshall-eilande en Mikronesië gevind is, kort op die hakke van kindersterftes in Gambië en Oesbekistan.
Toetse deur die WGO dui op “onaanvaarbare hoeveelhede dietileenglikol en etileenglikol”. Albei hierdie verbindings is giftig en ongeskik vir menslike gebruik.
Indië is die grootste verskaffer van generiese medisyne ter wêreld.