Die Departement van Gesondheid wil die publiek versoek om ekstra voorsorgmaatreëls te tref en behoorlike handhigiëne te handhaaf, aangesien die land ‘n uitbraak van diarree of gastroïntestinale infeksie ervaar, en daar toenemende aantal laboratorium-bevestigde gevalle van cholera is.
Die departement is die afgelope paar dae in kennis gestel van gevalle van mense wat met gastroïntestinale simptome in Hammanskraal, noord van Pretoria, verskyn, en dit het daartoe gelei dat meer as 50 mense mediese sorg by die Jubilee-hospitaal ontvang het. Ongelukkig het 15 pasiënte reeds hul lewens verloor.
Diarree is ‘n algemene en dikwels hoogs aansteeklike toestand wat die maag en ingewande aantas.
Dit is ‘n leidende oorsaak van kindersterftes en morbiditeit in die wêreld, en versprei meestal deur kontak met ‘n besmette persoon of deur besmette voedsel- en drinkwaterbronne.
Individue word gewoonlik 12 – 48 uur na blootstelling siek. Sommige van die algemene simptome sluit in diarree, krampe, naarheid, braking en laegraadse koors.
Nóg cholera-gevalle is in Gauteng, Vredefort en Parys in die Vrystaat-provinsie aangemeld.
Lede van die publiek word versoek om vermoedelik besmette voedsel, water en oppervlaktes te vermy, en hande deeglik met seep te was voordat voedsel hanteer word of nadat hulle die badkamer gebruik het om moontlike infeksie te voorkom.
Moet nooit water drink van onveilige bronne soos riviere, damme, strome nie, tensy dit eers gekook of ontsmet is.