Brooks Koepka het Sondag ‘n groot slag vir Liv Golf geslaan. Foto: Twitter / @PGATOUR
Kobie Cilliers
GOLF
Die gholf-wêreld is verlede jaar in twee geskeur met die stigting van LIV Golf – ‘n uiters lonende maar omstrede rebellereeks wat deur Saoedi-Aarabië se openbare beleggingsfonds gefinansier word.
LIV Golf het verskeie van die gevestigde Amerikaanse PGA- en Europese DP World-reeks se grootste sterre met reusebedrae geld weggelok. Spanning en vyandigheid is sedertdien aan die orde van die dag.
Dit was dus Sondag ‘n groot dag vir LIV Golf toe een van sy grootste name vir die eerste keer sedert die ontstaan van die wegbreek-reeks ‘n major-toernooi wen.
Brooks Koepka het op die Oak Hill-buiteklub in Rochester, New York, ’n PGA-kampioenskap-driekuns voltooi en ’n mylpaal major-oorwinning vir sy aangenome reeks behaal.
Koepka, wat vooraf gesê het dat hy lesse geleer het uit verlede maand se Meesters-toernooi – waar hy met twee houe voorgeloop het voor die laaste ronde, net om toe die deur vir Jon Rahm oop te maak om die gesogte Groen Baadjie te dra – het ’n voorsprong van een hou geniet toe spel op die laaste dag hervat is.
Dié slag het hy nie weer daardie voorsprong prysgegee nie.
Koepka het sy vierde en laaste laaste rondte met ’n koelkop en kliniese vertoning voltooi en ‘n telling van 67 houe, drie onder baansyfer, aangeteken vir ’n groottotaal van 271 (-9). Hiermee het die Amerikaner met twee houe oor sy landgenoot Scottie Scheffler, tweede op die wêreldranglys, en Viktor Hovland van Noorweë geseëvier.
“Ek het eenvoudig geleer en besef waar ek op Augusta fout gegaan het,” het Koepka agterna gesê.
“Ek het die hele aand daaraan gedink. Ek het geweet wat ek gedoen het en het geweet dat ek nooit weer sal opstap en só dink nie.”
Dié oorwinning was die 33-jarige Koepka se vyfde major-oorwinning en derde sege op die PGA-kampioenskap nadat hy ook in 2018 en 2019 in die toernooi koning gekraai het.
Cameron Davis (65) van Australië, Kurt Kitayama (65) en LIV Golf se Bryson DeChambeau (70) het ses houe agter die voorloper klaargemaak om gesamentlik vierde te eindig.
Koepka se sege was ’n groot oorwinning vir die LIV-reeks. Kritici glo dié rebellereeks is eenvoudig ’n poging deur die Saoediese regering om sy beeld te poets weens sy swak rekord wat menseregte betref.
Koepka se oorwinning sal nie die kwessies jeens menseregte oplos nie, maar inderdaad LIV Golf ’n bietjie van die geloofwaardigheid en respek gee wat dit verlang.
“Ek dink beslis dit help LIV, maar ek stel op die oomblik meer in myself belang, om eerlik te wees,” het Koepka gesê.
“Ek dink ek was die eerste ou om twee LIV-toernooie te wen. Om ’n major te wen is altyd ’n groot voorreg ongeag waar jy speel. Ja, dit is belangrik vir LIV, maar terselfdertyd ding ek mee as ’n individu in die PGA-kampioenskap.”
RUGBY
* Franse klubspanne het die naweek die septer in die eindstryde van Europa se mees gesogte toernooie op die Aviva-stadion in Dublin, Ierland geswaai.
Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe is Vrydagaand as die Speler van die Wedstryd aangewys in Toulon se oorwinning met 43-19 teen Franco Smith se Skotse klubspan, Glasgow Warriors. Dit het aan Kolbe-hulle die Challenge Cup-titel besorg.
Saterdagaand het die Franse hul oorheersing van die Europese klubrugby-landskap voortgesit toe La Rochelle sy Champions Cup-titel met welslae verdedig het deur Leinster in ’n naelbyt-eindstryd met 27-26 te klop.
Rugby se Wêreldbeker-toernooi word juis later vanjaar in Frankryk aangebied en Les Blues, tweede op die wêreldranglys, lyk al hoe meer na die gusteling om die Webb Ellis-trofee te verower.
Maar Ierland, boaan die wêreldranglys, sal bekommerd wees dat sy voorste klubspan vir die tweede agtereenvolgende jaar oor die laaste hekkies van die United Rugby Championship (URC) en Champions Cup geval het.
Bulls-ondersteuners verlustig hulle steeds in hul span se onverwagte oorwinning teen Leinster in Dublin in die halfeindstryd van die URC in 2022, waarna die Iere in die eindstryd van die Champions Cup teen die einste La Rochelle ook verloor het.
Vanjaar het presies dieselfde gebeur, behalwe dat Leinster op sy tuisveld deur Munster, nie die Bulle nie, in die halfeindronde van die URC uitgeskakel is.
Leinster beskik oor geweldig baie diepte en het vanjaar nagenoeg 60 spelers in die URC en Champions Cup ingespan. Maar die klub se ondersteuners het gemor oor Leo Cullen, afrigter van Leinster, se besluit om grootliks sy tweede bestes vir die kragmeting teen Munster in te span en sy “A”-span vir die Champions Cup-eindstryd te spaar.
Saterdag se nederlaag teen La Rochelle plaas Cullen se strategie om sy voorste spelers gereeld deur die loop van die seisoen ruskans te gee nogmaals onder verdenking. Die uiteinde is immers die tweede jaar agtereenvolgens wat een van die voorste klubspanne ter wêreld die seisoen sonder ‘n trofee afsluit.
* Dit is amptelik: Die Blitsbokke, nie so lank gelede nie die pasaangeër in internasionale sewesrugby, gaan in kwalifiserings-wedstryde moet speel om die Olimpiese Spele in 2024 in Parys te haal.
Die Blitsbokke het Sondag die Londen-sewestoernooi in die negende plek afgesluit. Daar het slegs 12 spanne aan die toernooi deelgeneem.
Om sake vir die eens blink Blitsbokke te vererger, het hulle in Londen die skrale kans wat hulle nog gehad het om outomaties vir aanstaande jaar se Spele te kwalifiseer, weggesmyt. Australië het die naweek die laaste plek wat nog beskikbaar was om outomaties te kwalifiseer, opgeraap.
Suid-Afrika sal nou later vanjaar aan die Afrika-sewestoernooi moet deelneem om vir aanstaande jaar se sportskouspel in Frankryk te probeer kwalifiseer.