Skip to main content

Isaac Cloete 

Nog ‘n trok met sy vrag het onlangs teen ‘n oorwegbrug gebots tydens n frats-ongeluk.

Dit het tussen Bergsig, buitekant Springbok, gebeur. Die berugte N7 hardloop bo-oor die pad na die nabygelë nywerheidsgebied. Van die swaar vrag het toe afgeval.

Die voorval het Dinsdagaand tussen 20:00 en 21:00 gebeur. Inwoners van die nabygeleë woonbuurt, Harmony Estate, het die geraas en geskuur gehoor, volgens hulle. Hulle het gemeen dat dit moontlik afkomstig was van die konstruksie-nywerhede in die omgewing.

Die driver van die trok was vanaf Alexanderbaai na Kimberley op pad, het hy geskok vertel. Volgens hom is hy ongedeerd, behalwe skok.

“Op die trok was toerusting van ‘n diamantmyn. Vir my het dit gelyk asof dit op Alexanderbaai nie reg opgelaai was nie. Maar ek kry net instruksies om te ry,” het hy vertel.

Hy wou brandstof in Springbok gaan ingooi vir die tog na Kimberley en wou onder deur die brug ry, in plaas van die eenrigtingpad wat by die N7 na Springbok aansluit.

Terwyl hy onder die brug ingery het, het ‘n reuse aanleg-vervoerband van sowat 8 ton skuins geval.

Wonderbaarlik kon die drywer die trok beheer sodat dit nie omslaan nie.

“Ek het gelukkig stadig gery en daar was nie verkeer op die pad daardie tyd van die aand nie.”

Die polisie was later op die toneel met personeel van die Zyho trok- en treiler-maatskappy, om te help waar hulle kon.

Woensdag-oggend was die pad afgesper sodat ‘n reuse meganiese hyskraan die vrag teen die brug en pad kon verwyder en dit na hul depot neem.

Donovan van Wyk, ‘n plaaslike sakeman, het Dinsdagaand na die ongeluk daar verbygery. Volgens hom móét drywers van sulke groot trokke en hoë vragte altyd seker maak wat die hoogte van hul vragte is. Hiervolgens moet hulle hul roetes bepaal.

“Maak seker wat die hoogte van sulke brûe is voor julle daaronder ry. Die hoogtes word mos aangedui.”

Die betrokke oorbrug se hoogte is 4.83m, soos op die brug aangedui. Die standaard hoogte in SA word op 4.5m gestel. Dit beteken dat die brug nie te laag gebou was nie, soos sommige mense nou aanvoer.

In die verlede het ander lorries of trokke ook al teen die betrokke brug vasgery omdat hulle vragte te hoog was.

Leave a Reply

error: Content is protected !!