Die voormalige Eskom-baas André de Ruyter het sinies gereageer op die nuus dat baie roof-e-afskrifte van sy boek Truth to Power op WhatsApp die rondte doen.
“Dit lyk my enigiets wat in Suid-Afrika met Eskom te doen het, word gesteel,” het hy gesê.
Penguin Random House, die uitgewer van die boek, is ontsteld oor die baie roof-PDFs van Truth to Power wat onwettig versprei word.
“Die verspreiding van roof-kopieë skend ons kopiereg sowel as dié van die outeur, en dit is onwettig ingevolge die Outeursregwet van 1976. Ons wil aan die publiek duidelik maak dat die enigste manier om ‘n e-boek wettig te bekom, is om dit by ‘n e-boekhandelaar te koop of om dit by ‘n gemagtigde e-boekbiblioteek te leen,” het die uitgewer gesê.
“Enige kopiëring of verspreiding van ‘n roofboek, of enige aanstuur van ‘n skakel na die roofboek, is onwettig. Ons sal regstappe neem teen individue wat roofkopieë sirkuleer, wat kriminele klagtes kan insluit sodra ons al die nodige inligting ingesamel het.”